28 dae gelede
Aan diens toe hy intree
In rou: David Hoffman se ma, Margaret, sy twee dogters, Zara en Angela, en sy vrou, Ashley, by sy gedenkdiens in Franschhoek. Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

TOT op die dag van sy dood het sers. David Hoffman van die Anti-Gang Unit (AGU) die ekstra myl gestap om die gemeenskap te protect.

Hoffman is Saterdagaand in ’n bisarre skietvoorval dood. Sy partner, sers. Marlon Appollis, loop hof vir sy skietdood. Die aanklag teen hom is strafbare manslag.

Hoffman het in 2005 by die polisiediens aangesluit. In 2013 het hy begin by die Stellenbosch-polisie se speurtak, waar hy en Appollis saamgewerk het.

Die AGU het albei die speurders opgeraap.

Genl.maj. André Lincoln, hoof van die AGU, het gister by Hoffman se roudiens in die NG Kerk in Franschhoek gesê almal by die eenheid is in rou.

“Sedert Hoffman se dood hang daar ’n donker wolk oor die eenheid.”

Hy het gesê Hoffman was ’n gentle soul.

“Hy was ’n hardwerkende man. Op ’n selfish manier het ons vergeet hy is ook ’n gesinsman, ’n pa vir sy twee dogters en man vir sy vrou.

“Ek hoop ons kan eendag van hom praat sonder trane in ons oë.”

Lt.kol. Abraham Brown, spanleier van die AGU, het gesê Hoffman was ’n IT-kenner.

“Hy was ’n belangrike asset vir die span en hy was briljant in sy werk.

“Hy het nooit nee gesê vir ’n challenge nie.”

Hy het gesê dis duidelik uit hoe Hoffman op die noodlottige aand vir ’n wildvreemdeling opgestaan het.

Son het Maandag berig hoe Hoffman by ’n braai in Skoolstraat, Franschhoek, was toe ’n jong man by die huis inhardloop vir beskerming teen ’n groep mans.

Die polisie is gebel, maar het nie uitgekom nie.

Hoffman het Appollis toe gebel.

Appollis het opgedaag toe daar al kalmte was en wou sy vuurwapen se veiligheidsknippie weer aansit toe ’n skoot afgaan en Hoffman in die kop tref.

Die polisiekommissaris, Bheki Cele, het gesê: “Hier is niemand op wie jy die skuld kan plaas nie.

“Die omstandighede is spesiaal.”

Aangekondig

Cele het bygevoeg Hoffman kon Saterdag sy rug op die jong man gekeer het.

“Maar hy het nie. Hy het homself in diens gestel deur in te tree vir die jong man.

“Hy is dus aan diens dood en dít is hoe die voorval voortaan hanteer sal word.”

Hy het ook aangekondig Hoffman gaan ’n amptelike staatsbegrafnis kry.

Hoffman se ma, Margaret, was baie emosioneel.

Sy het aan die polisiebestuur gesê: “Julle moet asseblief kyk na julle mense as hulle julle nodig het.

“Die Franschhoek-polisie is drie keer gebel. Niemand het uitgekom nie.”

Sy sê sy dra nie haat nie.

“Ek het net nie verwag dat hy só aan sy dood sal kom nie. My hart is stukkend oor my lieflingkind.”

Ashley, Hoffman se vrou en die ma van sy twee dogters, het gesê hy was van kleins af haar beskermheer.

Weggevat

“Hy was ook my beste vriend en sielkundige. My hele lewe is van my af weggevat. Tog sou my man nie wou hê ons moet huil nie.”

Hoffman word môre begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters