2 dae gelede
AA SA hou kele al 75 j. droog
JUBILEUM: Alkoholiste Anoniem in Suid-Afrika is vanjaar 75 jaar oud.  ~  ter illustrasie: ISTOCK

ALKOHOLISTE Anoniem (AA) Suid-Afrika het ’n trotse verlede om mense hul drankprobleem te help oorkom.

Mense wat raad vir alkoholisme soek, vind dit deur telefoniese hulp van die AA, in AA-vergaderings in stede en dorpe regoor die land, en deesdae ook aanlyn via Zoom of WhatsApp.

Alkoholiste Anoniem Suid-Afrika vier Maandag 18 Oktober sy 75ste bestaansjaar.

Dié organisasie sonder winsbejag wat op ’n vrywillige basis deur sy lede bestuur word, het al duisende Suid-Afrikaners die afge­lope 75 jaar gehelp om van die siekte van alkoholisme te herstel.

Geleenthede

Die 75ste jubileum begin Maandag met ’n landwye Zoom-byeenkoms, gevolg deur virtuele en fisieke byeenkomste, wat sal voldoen aan die protokolle ingevolge die Covid-19-veiligheidsmaatreëls.

Gegewe die anonimiteit van die genootskap is die meeste geleenthede slegs oop vir lede van Alkoholiste Anoniem.

Op enige dag of nag in die jaar sal diegene wat hulp soek om uit die kloue van alkoholisme te ontsnap, die hulp van die AA gratis tot hul beskikking hê.

AA Suid-Afrika is gestig 11 jaar nadat Alkoholiste Anoniem in 1935 in Amerika gestig is.

“Ons 75ste jubileum begin met ’n landwye Zoom-vergadering op Maandag 18 Oktober en is oop vir alle Suid-Afrikaanse alkoholiste en ons eweknieë regoor die wêreld,” gesels ’n begeesterde Joe P, ’n kurator van die raad van die AA in Suid-Afrika.

Inligting

“Vanaf hierdie datum tot en met 18 Oktober 2022 sal ons Diamantjubileum-jaar propvol virtuele en in-persoon-byeenkomste wees.

“Die AA se nasionale kongres in Kaapstad vanaf 15 tot 17 Augustus 2022 is een van die hoogtepunte.”

Mense wat hulp wil hê of meer inligting soek, kan die AA se nasionale hulplyn by 0861 HELP AA (435 722) bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters