3 jaar gelede
VERDAGTE GAPS GLO SKENKERSGELD
ARRESTASIE: Oberholzer word vroeg in Junie in hegtenis geneem. Foto: FOTO24
gevang: Barend Oberholzer is weer in die moeilikheid en is agter tralies. Foto: WESLEY MARTIN

’N VERMEENDE rykmansbedrieër wat mense glo uit hul geld geswendel het om sy swierbol-leefstyl te finansier, verskyn nog in die hof vir een saak, maar is klaar weer vasgetrek vir ’n ánder saak.

En dié keer was dit reguit tjoekie toe vir Barend Oberholzer (31).

Oberholzer het weer dié week in die Bellville-handelshof verskyn, maar hy het dié keer uit die aanhoudingsel gekom.

Oberholzer se beweerde skelmstreke het glo reeds in 2010 begin toe hy ’n helikopter aan ’n paartjie teen R2,8 miljoen verkoop het.

Die paartjie, Johan en Elmarie Kleyn, het egter nooit hul helikopter ontvang van 360 Aviation, Oberholzer se maatskappy, nie.

Hulle het ook nie hul miljoene teruggekry nie en Oberholzer het glo die geld gebruik onder meer vir die behoud van sy eie leefstyl.

Hy het glo met dié geld “geskenke” vir ene mnr. Merega gekoop.

Oberholzer het glo ook in 2010 ’n helikopter aan Benaja Trust verkoop. Die maatskappy het ’n deposito van R65 000 aan Oberholzer betaal.

Die finansiering is egter nie deur die bank goedgekeur nie en Oberholzer het glo nooit die deposito terugbetaal soos dit in die kontrak gestipuleer is nie.

Oberholzer is egter onlangs in die Paarl weer in hegtenis geneem oor beweerde bedrog.

Oberholzer het die finansies van die Crossfit-gym in die Paarl behartig.

Luidens die klagstaat het dié gym ’n fondsinsameling-geleentheid, “Row for Willem”, gehou om die mediese koste vir die roei-afrigter Willem van der Merwe te help dek. Die gym het R25 300 ingesamel.

Oberholzer het dié bedrag glo in Mei 2015 uit die gym se FNB-rekening gegaps.

Hy het glo ook in April ’n vervalste betalingsbewys vir R24 811 aan BMW Paarl gestuur om sy BMW X5 ná ’n diens terug te kry.

Oberholzer, wat op die spoggholflandgoed Val de Vie gewoon het, het nie sy huurgeld vir Maart, April, Mei en Junie betaal nie en glo vervalste betalingsbewyse vir R30 000 en R105 000 per e-pos aan die landgoed gestuur.

Dié spookgeldjies het dit egter nooit tot in die landgoed se rekening gemaak nie.

Oberholzer was na bewering onlangs ook in die sigaret­bedryf doenig toe hy hom voorgedoen het as ’n werknemer van British American Tobacco.

Hy het glo in Mei vanjaar sigarette ter waarde van R250 000 aan ene Omar Abdulahl Omar verkoop.

Toe die sigaretlorrie deursoek is, is net leë bokse gevind.

Oberholzer se beursie was op die sitplek voor in die voertuig.

Die lorrie is oornag by die ­Bellville-polisiestasie geparkeer, maar het op ’n “geheimsinnige wyse verdwyn”.

Oberholzer se beweerde manewales stop ook nie daar nie.

Hy het ’n transaksie aangegaan met Johan Gysbert van Niekerk, direkteur van Ronsa (Edms.) Bpk., wat vraghouers in- en uitvoer.

Hy het aan Van Niekerk gesê hy wil teëls uit die Midde-Ooste na Suid-Afrika vervoer.

Toe doeanebeamptes die drie vraghouers gestop en deursoek het, is daar sigarette in die vraghouers gevind. Van Niekerk het glo ’n verlies van R647 734 gely. wat insluit die aangehaalde fooi, bykomende uitgawes en wetlike kostes as gevolg van die inhegtenisneming van die bestuurders en aanhouding van die vragmotors en houers.Die maatskappy se beeld het ook erg skade gely. Oberholzer het glo hierna ’n kennisgewing van betaling van R260 545 aan Van Niekerk gestuur, wat noot in hul bankrekening gereflekteer het nie.

Oberholzer is vroeg in Junie gearresteer en sy borgtogaansoek is afgekeur.

Sy sake in die Paarl-landdroshof en Bellville-handelshof sal nou gekombineer word.

Oberholzer verskyn weer op 12 Augustus in die Paarl-landdroshof en op 18 Augustus in die Bellville-handelshof.

Hy bly in aanhouding in die Allandale-gevangenis in die Paarl.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters