4 jaar gelede
’RAMBO’ SNEUWEL
Leroy Scott Foto: Facebook
skote later . . . Familie en vriende van Michael Volkwyn troos mekaar. Sy broer Roy is heel links (met sonbril).
toneel: Michael Volkwyn het hom in sy huis doodgeskiet.
klein oorlog: Die polisie se taktiese reaksie-eenheid ontplooi voor Michael Volkwyn se huis.
woede: Dié is een van die poster wat Michael Volkwyn aan sy huismuur laat aanbring het.

HY HET die cops sy hele lewe lank gehaat en dit sou uiteindelik sy dood kos.

Gister net ná 10:30 het Michael Volkwyn (61) selfmoord gepleeg in sy huis in Hazendal, Athlone.

Dis nadat hy ’n cop die vorige aand geskiet het.

Volkwyn, of “Rambo”, soos hy al jare bekend gestaan het, en die polisie was in ’n 15 uur lange stand-off voordat hy homself geskiet het.

Op die muur van sy huis in Albemarleweg was ’n poster, “The justice system failed me”, en op sy hek “Just guns”.

Die drama het Dinsdag net ná 18:00 begin toe Volkwyn, wat ’n meganiese ingenieur is, die polisiebeampte Leroy Scott (27) in die gesig geskiet het.

Volgens bure het Volkwyn se vorige huurder met die cops opgedaag om haar besittings te kom haal.

’n Buurman sê: “Michael het 13 honde. Een van hulle het die huurder en ’n cop gebyt, toe skiet die cop die hond.

“Dis toe dat Michael Scott skiet,” vertel die buurman.

Die SPCA het Volkwyn se honde Dinsdagaand verwyder.

Volgens ’n bron in die polisie smeul Volkwyn se haat vir sy lede al sedert die apartheidsjare toe hulle die aktivis Ashley Kriel doodgeskiet het.

“Ashley was ­Michael se neighbour en hy het daai laaitie as sy eie geag,” sê die bron.

“Toe hy doodgeskiet is, was ­Michael gebroke. Sy vrou kon dit nie hanteer nie en hulle is dieselfde jaar geskei.”

Familievriende op die toneel vertel ná Kriel se dood het die polisie hom weer “in die duister gelaat”.

Een van hulle sê: “Vir ­Michael het die cops en ­government sy pa, Isaac, wat die eerste bruin prokureur in die land was, nie genoeg erkenning gegee toe hy oor­lede is nie.”

Volkwyn se oudste suster, Diana Volkwyn-Williams, sê sy het sedert Dinsdagaand buite gestaan om met die polisie saam te werk.

“Ons wou hom lewend uitkry, al het ons geweet hy sou nooit uit die huis loop nie,” sê Volkwyn-Williams.

“My broer Roy het van Joburg gevlieg om met ­Michael te onderhandel.”

Volkwyn-Williams, Roy, hul suster, Barbara, en die omstanders het twee skote gehoor.

Dit was kort nadat die polisie die elektrisiteit in die huis laat afskakel het omdat Volkwyn op sy veiligheids­kameras kon sien wat buite aangaan.

Ná die skote het Barbara gegil: “F*ck you! Die polisie het ons ge-fail! Hulle het ons regte weggevat! Hulle wou nie eens hê dat ons goodbye of liefde vir hom moet sê nie.”

Volgens kapt. F.C Van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sterk Scott aan in die hospitaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters