10 maande gelede
6 doodgeskiet
vermoor: Nathaniël Peterson is een van drie mans wat in Uitsig geskiet is.  ~ 

SES mense is sedert die naweek weens afsonderlike bendeverwante skietery dood.

In Uitsig is drie mans in afsonderlike skietvoorvalle afgemaai.

Al drie mans is in drive-by shootings doodgeskiet.

In die mees onlangse voorval gisteroggend in Uitsiglaan is Nathaniël Peterson (20) koelbloedig doodgeskiet. Die jongens wat hom geskiet het, het na verneem word in ’n wit motor met blou ligte gery.

Die cops het reeds ’n 24-jarige verdagte vir die moord gearresteer.

In ’n skietvoorval Sondagaand is ’n vermeende lid van die Terrible-bende in Connaught Road vol lood gepomp.

Saterdag omstreeks 05:55 is ’n 24-­jarige man op die hoek van Connaught Road­ en Uitsiglaan doodgeskiet.

Een van die skietvoorvalle het naby die tydelike polisie se opslaankamp in Uitsig gebeur.

Past. Adam Alexander, ’n gemeenskapsleier, beweer dis jongens van ander gebiede wat verantwoordelik is vir die skietery.

Alexander vertel: “Die 28- en 26-bendes van Uitsig is stil en skiet nie meer op mekaar nie.

“Al die skietvoorvalle was drive-by shootings en dis gangsters van ander gebiede wat hier kom skiet.”

Volgens Dawie van Wyk van die polisiëringsforum was dit die afgelope vier maande stil in Uitsig. Van Wyk sê hy hoop nie die bendegeweld gaan weer opvlam nie.

In Mitchells Plain is twee mans Sondagaand in afsonderlike skietvoorvalle om die lewe gebring.

Tyrone de Bruin (28), ’n vermeende lid van die Americans-bende, is omstreeks 21:00 in Falstaff Crescent in Eastridge in die kop geskiet. Hy is op die toneel dood.

Sy lyk is op ’n oop veld gevind.

Dieselfde aand is ene Ig­shaan in Lilacstraat in East­ridge in die bors geskiet.

Daar is vergeefs probeer om sy lewe te red en hy is op die toneel dood.

In Eersterivier is Francois Petersen, beter bekend as Fubu, se lyk Saterdagaand langs die pad by Blueberry Hill gevind.

Hy is in die kop geskiet en daar word vermoed sy lyk is daar gedump.

In Hanover Park Avenue in Hanover Park is Abdul Karriem en ’n vrou gisteroggend gewond. Hy is verskeie kere in die bors en een keer in die gesig getref en die vrou is in die been gewond.

Die slagoffers is met ’n ambulans na die hospitaal geneem.

Die man is in ’n ernstige toestand.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is niemand nog vir dié voorvalle aangekeer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters