2 jaar gelede
5 OD-mayors moet march
Melvin NaikFoto’s: verskaf  ~ 

DIE DA raak nou ontslae van alle lede van die des­tydse Onafhanklike Demo­krate (OD).

Dit wil voorkom of hulle almal wantrou wat bande het met die stigter van die OD, Patricia de Lille.

Só meen Khaya Magaxa, waarnemende voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap, nadat vyf burgemeesters die laaste paar weke die deur gewys is.

Die mees onlangse slag­offer is die burgemeester van die Knysna-munisipaliteit, Eleanore Bouw- Spies.

Bouw-Spies is Woensdagaand met die hulp van DA-raadslede uitgestem in ’n mosie wat die ANC ter tafel gelê het.

Bonginkosi Madikizela, die Wes-Kaapse leier van die DA, het nie gister sy selfoon geantwoord of op Son se SMS en WhatsApp-boodskap gereageer nie.

Hy het dié move vroeër op CapeTalk as ’n “staatsgreep” beskryf.

Son het laas week berig die raad van die Stad Kaapstad het De Lille van al haar uitvoerende magte gestroop.

Die Kaapse hooggeregshof lewer na verwagting later die maand uitspraak in die De Lille-saak teen die DA.

Die drie ander burgemeesters wat die laaste paar weke uit hul pos geskop is, is Evert Manuel (Bergrivier), Melvin Naik (George) en Rhenda Stephan (Matzikama).

Naik is uitgestem nadat die Valke ’n volskaalse onder­soek geloods het in verband met beweringe van korrupsie, bedrog en geldwassery.

Asof dit nie genoeg was nie, het die speaker van die Stellenbosse munisipaliteit, Donovan Joubert, ook die boot gekry.

Al dié beamptes behalwe Stephan was saam met De Lille in die OD voordat dit ’n paar jaar terug by die DA ingelyf is.

Patricia de lilleFoto: peter abrahams
Evert Manuel
Eleanore Bouw-Spies
Melvin NaikFoto’s: verskaf
Rhenda Stephan

Magaxa meen die DA is nou in ’n stryd met homself en besig om van binne in duie te stort.

Hy sê: “Die DA-leierskap beskou nou enigeen na aan De Lille as ’n bedreiging; daarom is daar ’n heksejag teen almal wat met De Lille verbind word, onder andere voormalige OD-lede.”

Magaxa sê verder: “Die DA het homself lank uitgebeeld as ’n party wat immuun is teen korrupsie, maar die korrupsie is nou op sy voorstoep.

“En nou soek hy ’n sondebok en die voormalige OD-lede is oënskynlik die geskikte kandidate hiervoor.

“Die feit is dienslewering word ge­raak omdat die DA te besig is met interne sake pleks daarvan om dienste na die mense te bring.

“Dit is ook hoekom diensleweringsbetogings die laaste paar weke toegeneem het.”

Nes Madikizela het die provinsiale voorsitter van die DA, Anton Bredell, nie gister sy selfoon geantwoord of op Son se boodskappe gereageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters