3 maande gelede
26 keer gelem
LOOP OOK DEUR: Dié man is een van die vele mense wat Saterdagaand aangeval is. Hy is in sy skouer gesteek.FOTO verskaf  ~ 

DIE pa van ’n ongebore baba is die naweek in Kleinvlei by sy meisie se baby shower vermoor.

Denver Kotze is dood nadat hy Saterdagaand in Erica­straat tydens ’n baby shower vir sy meisie, Natasha Abrahams, aangeval is.

Die paar het sowat ’n maand gelede hulle driejarige seuntjie, Denzil Abrahams, begrawe.

Denzil was die nefie­ van die vier­jarige Em-Jay en E-Jay Eksteen.

Die tweeling is aan die begin van die jaar ’n dag ná mekaar oorlede.

Al drie seuntjies is dood weens ’n brand by hulle ouma se huis.

Die tweeling se pa, Earl Eksteen, sê Kotze se dood is ’n groot skok vir almal – in die familie én in die breër gemeenskap.

Hy vertel: “Ek het na my ma se huis toe gekom toe ons die nuus kry dat my broer en sy meisie gesteek is.

GEDREIG: Earl Eksteen het Kotze probeer red.

“Toe ons daar kom, was daar niemand in die pad nie.

“Ek het in die pad afgestap. Toe ek omdraai, was daar drie manne rondom my.

“Hulle wou my aanval. Twee ander mense het met Denver baklei.

“Ek sien toe hoe hulle hom steek.”

Eksteen sê hy het nog probeer om die jongens se aandag af te trek om Kotze te help, maar dit was eenvoudig vergeefs.

“Hy het probeer wegkom, maar hulle het hom verder gesteek,” vertel hy.

Kotze is 26 keer gesteek. Hy is na die hospitaal geneem, maar het aan sy wonde beswyk.

Die jongens is vermoedelik lid van die Fancy Boys, en Kotze is na bewering nie die enigste mens wat onder hulle deurgeloop het nie.

’n Dag later is Brendell Visser aangeval en met iets oor die kop geslaan – na bewering deur dieselfde klomp jongens.

Denver Kotze

Visser sê hy weet nou nog nie eens waarom hy aangerand is nie.

“Hulle dreig ’n mens dat ons nie in die pad mag stap nie en sê hulle gaan ons vrek maak. Maar vir wat, week ek nie,” sê hy.

Eksteen sê Kotze en Visser is nie die eerste mense wat onder die vermeende gangsters deurloop nie.

Nicolene Koopman, een van die locals, kla die jongens praat soos hulle wil en doen net wat hulle wil met die inwoners.

Dreig

“Dit is hartseer wat hulle doen. Hulle wil hier oorvat,” vertel sy.

“Dit maak nie saak wie jy is nie.

SIEK EN SAT: Bure ondersteun Nicolene Koopman gister terwyl sy verduidelik hoe hulle gedreig word en hoe gatvol hulle is oor die goed wat in hulle gemeenskap plaasvind.Foto’s: JONATHAN LESTRADE

“As jy teen hulle opstaan, dan dreig hulle jou en vloek jou uit.”

Koopman sê sy vrees vir wat vir haar eie seuns voorlê – net soos baie ander in­woners.

“Ons kan nie eens ons kinders in ons huise grootmaak nie.

“Ons wil vry rondbeweeg, maar kan dit nie doen terwyl die jongens hier is nie. Hulle moet gaan!”

Abrahams se baba sal na verwagting teen die einde van die maand gebore word.

Die polisie het nie teen druktyd op Son se navrae oor die voorvalle gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters