29 dae gelede
2 dood voor die dag breek
SLAGOFFERS: Albert Mbenya (31) en sy 27-jarige vrou, Stephanie, is gisteroggend in hulle huis in Blikkiesdorp om die lewe gebring.FOTO VERSKAF  ~ 

’N GETROUDE paar is gisteroggend in hulle blikhuisie doodgeskiet.

Die doodskote het nog voordat die son op was, deur Blikkiesdorp weergalm.

Albert Mbenya (31) en sy vrou, Stephanie (27), is albei verskeie kere getref.

Die jong egpaar was maar drie jaar getroud.

Die voorval het omstreeks 06:30 gebeur. Albei is op die toneel dood.

Volgens Stephanie se ma, Susan Martin (48) van Athlone, het sy ’n oproep van haar vriendin gekry.

Martin sê: “Die vriendin het so gehuil. Ek wou net weet of my kind nog lewe.

HARTSEER: ’n Huilende Martin word op die toneel vertroos. Sy sal nou na haar kleinkinders moet omsien.

“Toe ek op die toneel kom, was die polisie reeds daar en kon ek haar nie sien nie.”

Volgens ’n familielid het Stephanie haar 10-jarige dogter na ’n vriendin gestuur net voordat die skietery plaasgevind het.

Die familielid, wat verkies om anoniem te bly, sê: “Iemand het vir Albert geroep. Hy het opgestaan en die deur gaan oopmaak.

“Die persoon het ingekom en hom twee keer geskiet.

Opgespring

“Hy het na die voorkamer gehardloop, waar hulle hom verder geskiet het.

“Stephanie het op die emmer in die slaapkamer gesit toe die eerste skote klap.

“Sy het opgespring en die jongens het haar ook in die kop geskiet.

“Hulle 10 maande oue baba het in die slaapkamer op die bed gelê toe die skietery plaasvind.”

’n Hartseer Martin beskryf haar dogter as ’n liefdevolle kind wat altyd daar was vir haar familie.

kan dit nie glo: Debra Adams (50) en Susan Martin (48) sukkel om oor die skok van Martin se dogter en skoonseun se dood te kom. Foto’s: JONATHAN LESTRADe

Volgens Martin, wat in Bokmakierie woon, het sy haar dogter twee maande gelede laas by ’n familielid se begrafnis gesien.

Sy sê: “Ek het haar ’n week gelede gebel om te sê sy kan my ou TV kry, want ek het vir my ’n nuwe TV gekoop.

“Ek het nog vir haar gesê ek gaan vir haar geld en ’n paar goedjies stuur, want nie een van hulle twee het gewerk nie.

“Ek kan nou nog nie glo my kind is dood nie.

“Ek sal nou na haar twee kinders moet omsien.”

Volgens Stephanie se tante, Debra Adams, was sy vir haar soos ’n eie dogter.

Adams (50) vertel: “Ek het twee maande gelede my seun in ’n skietery in Bok­makierie verloor en nou is dit sy.

“Sy het altyd met my kom praat wanneer iets haar gepla het.”

Volgens een van Albert se niggies, Gloria Kweleta (35), is hulle gebroke.

Hulle het nooit verwag só iets sal gebeur nie.

Sy beskryf Albert as ’n grappige mens wat lief was vir sokker.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n woordvoerder van die polisie, is ’n dubbele moordsaak geopen.

Geen verdagtes is al vir die skietery aangekeer nie. Teen druktyd was die motief vir die moord op die egpaar nog onbekend.

  • Intussen is die cops nog op soek na die moordenaar van ’n 17-jarige laitie wat Sondagoggend in Hanover Park doodgeskiet is.

Die seun se familie het gister ten sterkste ontken dat hy enigsins ’n lid van die Ghetto-bende was en het volgehou hy was nie by bendes betrokke nie.

Volgens lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, is die seun omstreeks 01:30 in Pelican Court geskiet.

Die cops is nog besig om die omstandighede rondom sy dood te ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters