Verlede maand
2 couples in brande dood
LIGTE LAAIE: ’n Woonstel in Manenberg is gister deur ’n brand beskadig.  ~ Foto Verskaf

VIER mense het die naweek in afsonderlike brande gesterf.

Die jongste voorval het gister in die vroeë oggendure in Delft gebeur toe ’n vrou en ’n man in hul hokkie doodgebrand het.

Dit het in Balelesstraat gebeur. Die brand het omstreeks 05:00 in hul plakkershut ontstaan. Albei inwoners was in hul 50’s.

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder vir Stad Kaapstad se nood-en-brandweerdienste, was die brandweer­personeel van Kuilsrivier, Lansdowne en Bellville gou op die toneel.

Dit het meer as ’n uur gevat om die verwoestende brand te blus.

Die lyke van ’n man en vrou is toe in die uitgebrande hok gevind.

Die omstandighede rondom die brand is nog onbekend.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die cops ’n geregtelike nadoodse ondersoek aangevra.

  • Nog ’n couple het Saterdag ook in die vroeë oggendure in Delft-Suid in hul plakkershokkie doodgebrand.

Die voorval het omstreeks 03:00 in Lalostraat gebeur waar twee hokkies afgebrand het.

Die gesin van een hokkie kon die vlamme ontvlug.

Die couple in die ander hokkie was egter minder gelukkig en het in die brand omgekom.

Die brandweerdienste het die twee uitgebrande lyke gekry nadat hulle die vlamme geblus het.

  • In nóg ’n brand gisteroggend is ’n woonstel in Manenberg erg beskadig.

Die brand het by Isabel Court in Manenberg oorkant die Philippi Junction-winkelsentrum plaasgevind.

Die brand het omstreeks 08:20 uitgebreek en drie brandweerwaens was gou op die toneel om die brand te blus.

Daar was brandskade aan die kombuis en sitkamer, terwyl daar meer water- en rookskade aan die slaap­kamer was.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Niemand is gelukkig in die brand beseer nie.

Die gesin het egter die meeste van hul besittings in die brand verloor.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters