3 maande gelede
Yanks se prez is steeds omstrede
us president
Donald Trump  ~ Getty Images

IN DIE vier jaar sedert Donald Trump die Amerikaanse president is, was daar talle omstrede voorvalle.

Van die grootstes was Trump se geveg met China oor doeanetariewe en handelsbetrekkinge. Ook sy wegpratery van Covid-19.

Trump het reeds in sy veldtog voor 2016 se presidentsverkiesing die aan­tyging gemaak China “rip Amerika af”.

Hy wou dinge verander om meer werk in Amerika te skep, maar die handelsbande tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë het net versleg.

Daar is selfs gefluister dat ’n nuwe Koue Oorlog kan uitbreek.

Trump was skaars in die Withuis, toe volg sy besoek aan Saoedi-Arabië – en kort daarna is die blokkade teen Katar ingestel.

Toe die corona-virus-pandemie uitbreek, het dit aanvanklik gelyk asof Trump hom daaraan afvee. Hy het gedurig sonder ’n masker in die openbaar verskyn.

Hy het etlike onverantwoordelike uitlatings gemaak en voortgegaan asof daar geen virus is nie. Dít terwyl duisende Amerikaners rondom hom gesterf het en hy en sy vrou ook met die virus besmet was.

Nog ’n groot flater is Trump se algehele ontkenning van die klimaatkrisis.

In 2018 het Trump sy land ook onttrek aan gesprekke tussen verskeie groot lande en Iran oor ’n Iranse kern-ooreenkoms.

Die Amerikaanse president het só die vrede ondermyn. Hy het ook druk op Iran begin toepas deur sanksies teen die land te verskerp.

Sluipmoord

Sake tussen dié twee lande het so versleg dat oorlog op ’n kol nie uitgesluit kon word nie.

Die sluipmoord op Iran se genl.maj. Qasem Soleimani, ’n hoë in die Islamitiese Revolusionêre Garde, het die wêreld verder van balans af geruk.

Trump het in sy amps­termyn die Amerikaanse ambassade van Tel Aviv na Jerusalem verskuif. Dit het baie Arabiese lande die duiwel in gemaak.

Sy beheptheid met Israel het betrekkinge in die Midde-Ooste vererger. Hy’t veral die Palestyne omgekrap.

Trump het die wêreld wel verstom met sy gesprekke met Noord-Korea se leier, Kim Jong-un, oor kernontwapening, maar niks het sedert die ontmoeting tussen dié twee bad boys gebeur nie.

Die dood van George Floyd in Minneapolis in Mei 2020 het weer gewys watter groot rassis Trump is.

Hy het aangehou om allerhande verregse groepe aan te hits en te ondersteun. – Reuters/The Economic Times

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters