9 dae gelede
Trump wéér ge-impeach
Pres. Donald Trump  ~ Getty Images

DONALD Trump het die eerste president in Amerika se geskiedenis geword om twee keer in sy termyn in 'n staat van beskuldiging geplaas te word.

Die huis van verteenwoordigers, wat deur die Demokrate beheer word, het met 232 stemme teenoor 197 ten gunste daarvan gestem. Tien lede van Trump se eie party het ook ten gunste daarvan gestem.

Trump sal nou in die senaat verhoor word. Dit gaan egter nie gebeur voor sy termyn volgende week tot 'n einde kom nie.

Mitch McConnell, Republikeinse leier in die senaat, het reeds die Demokrate se versoek vir 'n spoedige verhoor afgekeur.

Chuck Schumer van die Demokrate, wat binnekort as meerderheidsleier in die senaat gaan oorneem, sê 'n verhoor gaan ongeag die tydsberekening wel plaasvind.

Schumer sê as Trump skuldig bevind word, sal hy verbied word om ooit weer vir president te staan.

Joe Biden, wat Trump op 20 Januarie opvolg, het intussen gesê die verhoor moet nie die werk om die ekonomie en entstofprogram op dreef te kry, vertraag nie.

Geen Amerikaanse president is al ooit deur 'n staat van beskuldiging uit sy amp verwyder nie.

Trump in 2019, Bill Clinton in 1998 en Andrew Johnson in 1868 is voorheen in 'n staat van beskuldiging geplaas, maar later deur die senaat vrygespreek. - Reuters


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters