3 maande gelede
Trump se mob trek VSA se gesigvel af
trump mob
VROTTE PATRIOTTE? ’n Kykie na die tipe mense wat meer in Trump glo as in enigiets anders in die wêreld.  ~ AP

LEDE van die Republikeinse Party in Amerika oorweeg dit om ’n sinkende skip te verlaat.

Dit volg nadat Matt Pottinger, adjunk-sekuriteitsadviseur, bedank het nadat vier mense dood is in die stormloop op die Kongresgebou in Washington DC. 

Kongreslede was besig om die verkiesingsoorwinning van die aangewese president en adjunkpresident te bekragtig.

Die aanval kom nadat Trump sy ondersteuners aangemoedig het om na die Kongresgebou op te ruk. 

Talle ander lede het dit Donderdag oorweeg om uit Trump se party bedank.

Trump en sy meelopers het herhaaldelik gesê daar is in die verkiesing geknoei, maar geen bewyse is daarvoor in die hof voorgelê nie.

Joe Biden en Kamala Harris word op 20 Januarie amptelik ingehuldig.

Trump het aanvanklik niks gedoen om die choas en terreur te stop nie. Hulle is met traangas bestook en die Nasionale Garde het gaan help om die orde te probeer herstel.

Die betogers het die gebou beskadig en artikels daaruit as aandenkings gesteel. Die senators het na veiligheid gevlug.

Die polisie het ’n vrou doodgeskiet en nog drie is dood as gevolg van “mediese toestande”.

Trump se profiel op Twitter is weens sy onverantwoordelike uitlatings voorlopig toegemaak.

Politieke kommentators beskryf die dade van die pro-Trump-betogers as binnelandse terreur.

Phil Scott, Republikeinse goewerneur van Vermont, sê Trump moet bedank of dadelik uit sy amp verwyder word. 

SE Cupp, CNN- politieke kommentator, sê baie mense het gesê Trump is nie die regte man om president te wees nie. “Maar daar is gesê dié mense is mal en weet nie waarvan hulle praat nie.”

Trump het Donderdag gesê die magsoorgang na Biden sal glad verloop.

Dit was die ergste geweld by die Kongresgebou sedert die Britte dit in 1814 aan die brand gesteek het.

Baie sakelui en politieke kommentators veroordeel die voorval en sê iets moet aan Trump gedoen word. – CNN/Al­Jazeera/MSM News/New York Times 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters