3 maande gelede
Trump se fiemies kos werkloses hul versekeringsgeld
us president
Pres. Donald Trump  ~ Getty Images

MILJOENE Amerikaners kan hul werkloosheidsvoordele kwyt wees nadat pres. Donald Trump geweier het om die Covid-19-hulppakket betyds tot wet te bekragtig.

Trump het vandeesweek gesê hy is ontevrede met die pakket van $892 miljard omdat dit nie genoeg vir alledaagse mense doen nie.

Sonder Trump se handtekening kan sowat 14 miljoen mense die werkloosheidsvoordele verloor.

Trump se party, die Republikeine, en die Demokrate het ná maande van koppe stamp uiteindelik oor die pakket saamgestem. Die Amerikaanse kongres het Maandag ten gunste daarvan gestem.

Trump, wat op 20 Januarie die leisels aan Joe Biden moet oorgee, het sedertdien begin kla dat die wetsontwerp te veel geld aan spesiale belange, kulturele projekte en buitelandse hulp gee.

Volgens hom is die stimulustoelae van $600 aan sukkelende Amerikaners ook te min. Hy wil hê dit moet tot $2 000 verhoog word. – Reuters



Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters