3 maande gelede
Trump gaan inhuldiging mis gee
Pres. Donald Trump  ~ AP Photo / Patrick Semansky

PRES. Donald Trump van Amerika gaan nie sy opvolger, Joe Biden, se inhuldiging op 20 Januarie bywoon nie.

Trump het dié nuus Vrydag in ’n twiet bekendgemaak – ure nadat hy ’n vreedsame magsoordrag belowe het.

“Aan almal wat gevra het, ek gaan nie die inhuldiging op 20 Januarie bywoon nie,” het Trump getwiet.

Reuters berig Demokrate in die huis van verteenwoordigers gaan Trump in ’n staat van beskuldiging probeer plaas. Dít kom nadat ’n groep Trump-ondersteuners Woensdag die Kongresgebou bestorm het.

Indien die Demokrate suksesvol is, sal dit die eerste keer wees dat ’n president twee keer in ’n staat van beskuldiging geplaas word.

Nancy Pelosi, speaker van die huis van verteenwoordigers, het Vrydag gesê die Kongres moet alles in sy vermoë doen om Amerikaners te beskerm.

Die FBI het reeds van die hooligans toegekap wat die Capitol binnegedring het.

Onder hulle is die kêrel wat met sy voete in Pelosi se chaotiese kantoor op haar lessenaar gepose het vir ’n foto.

Jake Angeli, die ou met die kaal bolyf en die hoed met die horings op, is ook gearresteer.

Twitter het intussen ook aangekondig Trump se rekening is permanent gesluit.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters