2 maande gelede
Ramp vir Trump
TOEGEKAP: Die Kongresgebou in Washington, DC, is gereed, maar met versperrings soos nog nooit tevore nie.  ~ AP

DONALD Trump is seker tans die suurste suurknol op die aardbol.

Vandag se inhuldiging van Joe Biden as Amerika se 46ste president en Kamala Harris as adjunkpresident voor die Kongresgebou in Washington, DC, is nie soos vorige inhuldigings nie. Trump en sy vrou, Melania, versuur die event deurdat hulle Joe en Jill Biden nie op die stoep van die Withuis gaan inwag om hulle soos vorige uitgaande presidentspare welkom te heet nie.

Tradisioneel wag die uitgaande president die nuwe president op die trappe van die kolonnade aan die noordekant in.

Trump is egter suur en hy weier om dit te doen.

Die Withuis se hoofhuishouer, Timothy Harleth, gaan Biden en sy vrou nou inwag.

Melania het Jill ook nie soos vorige first ladies uitgenooi vir tee nie.

Terwyl duisende soldate en sekerheidspersoneel ontplooi is en gereed staan vir enige gebeurlikheid by die inhuldiging, maak Amerika gereed om die 78-jarige Biden as nuwe president te verwelkom.

Daar wag ’n enorme uit­dading op Biden en Harris, sy 56-jarige adjunk, om Amerika uit die bollie na die beloofde land te lei.

Amerika het onder Trump liederlik verdeeld geraak.

Met die corona-virus wat onder die Yanks maai en die skade wat Trump oorsee aangerig het, is Biden en Harris klaar onder druk nog voordat hulle in hul amp bevestig is.

Vlae

Die inhuldiging is baie afgeskaal – deels weens die pandemie, maar ook omdat Trump ’n groot aandeel gehad het in die stormloop op die Kongresgebou op 6 Januarie waarin vyf mense gesterf het.

Dis algemene kennis dat Trump sy ondersteuners aangehits het om dit te doen.

Weens die min toeskouers is byna 200 000 vlae aangebring om diegene te verteenwoordig wat nie daar kan wees nie.

Alle oë is nou op Washington, DC, om te sien of alles glad verloop en of Trump se dissipels wéér amok gaan maak. Bronne: CNN/NBC/Washington.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters