3 maande gelede
Profeet Joshua ‘is terug huis toe’
tb joshua
Pastoor TB Joshua.  ~  Pius Utomi Ekpei

DIE omstrede Nigeriese TV-evangelis TB Joshua is Saterdag dood. Hy was 57.

Joshua was leier en stigter van die Synagogue Church Of All Nations. Die kerk bedryf ook die Emmanuel-televisiestasie in Lagos in Nigerië.

Die kerk sê in ’n verklaring: “God het sy dienaar Profeet TB Joshua huis toe geneem - soos dit hoort deur sy goddelike wil. Sy laaste oomblikke op aarde was in die diens van God spandeer. Dit is waarvoor hy gebore is, geleef het en voor gesterf het.

“The Synagogue, Church Of All Nations en die Emmanuel TV-familie waardeer julle liefde, gebede en kommer in dié stadium en versoek ’n tyd van privaatheid vir die familie.”

In sy leeftyd was Joshua baie omstrede. Baie het gevra dat hy aanspreeklik gehou word ná die ineenstorting van sy kerk, waarin meer as 80 Suid-Afrikaners dood is.

Daar is in Julie 2015 bevind dat die ineenstorting weens nalatigheid was. Sommige families het kontantuitbetalings aanvaar as vergoeding terwyl ander met hofsake begin het.

Sy YouTube-rekening is ook onlangs gesluit nadat hy tydens een van sy dienste beweer het hy kan gay gemeentelede van hul homoseksualiteit “genees”. - TimesLive

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters