2 maande gelede
Prins Philip sterf
Prins Philip  ~ Getty Images

PRINS Philip, Koningin Elizabeth II se man, is Vrydag in die ouderdom van 99 dood, het die Buckingham-paleis aangekondig.

Hy sou in Junie sy 100ste verjaarsdag vier.

Luidens 'n verklaring van die paleis het Philip, die hertog van Edinburgh, vreedsaam in Windsor Castle gesterf.

Sy dood kom nadat hy onlangs 'n maand in die hospitaal deurgebring het vir behandeling van 'n bestaande harttoestand.

Boris Johnson, Britse premier, het in 'n huldeblyk gesê Philip het gehelp om die koninklike familie en die monargie te lei sodat dit vandag nog 'n instelling bly "wat sonder twyfel belangrik vir die balans en geluk van ons nasionale lewens is".

Johnson sê Philip sal onthou word vir sy rotsvaste ondersteuning van die koningin.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook Vrydag sy medelye met Koningin Elizabeth gedeel.

Ramaphosa sê prins Philip was 'n merkwaardige openbare figuur wat 'n buitengewone lewe gelei het en wie liefdevol onthou sal word deur baie mense van regoor die wêreld.

Philip, wat in 1921 op die Griekse eiland Corfu gebore is, het in 1947 met prinses Elizabeth getrou - vyf jaar voordat sy koningin sou word. Hulle was 74 jaar getroud.

Hulle het vier kinders saam, agt kleinkinders en 10 agterkleinkinders.

Philip se pa was prins Andrew van Griekeland en Denemarke, seun van Koning George I van Hellenes. Sy ma was prinses Alice, dogter van Lord Louis Mountbatten en agter-agterkleindogter van Koningin Victoria. - BBC News


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters