Verlede maand
Oud-cop skuldig aan George Floyd se moord
Derek Chauvin tydens hofverrigtinge.  ~ CourtTV/Pool camera

'N MYLPAAL in die stryd teen rasse-ongeregtigheid.

Só is die uitspraak beskryf waarin die oudpolisieman Derek Chauvin (45) Dinsdag skuldig bevind is aan die moord van George Floyd.

'n Jurie het Chauvin op klagte van tweedegraadse- en derdegraadse moord asook manslag skuldig bevind.

Die jurie, bestaande uit vier wit vroue, twee wit mans, drie swart mans, een swart vrou en twee veelrassige vroue, het vanaf Maandag vir net meer as 10 ure beraadslag voordat hulle tot 'n besluit gekom het.

Floyd (46) is in Mei verlede jaar dood nadat Chauvin, 'n wit polisieman van die deelstaat Minneapolis, sy knie vir meer as nege minute op sy nek gehou het terwyl hy in boeie was. Chauvin en drie ander polisielede het probeer om Floyd te arresteer nadat hy 'n vervalste $20-noot gebruik het om sigarette te koop.

Pres. Joe Biden het ná die uitspraak gesê die skuldigbevinding kan 'n reuse stap vorentoe wees in die opmars na geregtigheid in Amerika.

Biden het gesê die moord is helder oordag gepleeg en het die kleppe van die hele wêreld se oë laat afval om die sistemiese rassisme te sien.

"Niks gaan dit beter maak nie, maar ten minste is daar nou 'n bietjie geregtigheid," het Biden aan Floyd se familie gesê.

Hy het weer sy ondersteuning beklemtoon vir wetgewing om "ongrondwetlike polisiëring" uit te roei.

Floyd se broer, Philonise, het agterna gesê hulle kan nou weer asemhaal, maar dat die stryd vir geregtigheid nog nie verby is nie.

Chauvin word oor agt weke gevonnis. 'n Maksimum vonnis van 40 jaar tronkstraf staar hom in die gesig. - Reuters

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters