10 maande gelede
Ordentlikheid ná Trump terug
WAARDIG: Pres. Joe Biden en adj.pres. Kamala Harris by Woensdag se inhuldiging.  ~ Reuters

AMERIKA se nuwe president, Joe Biden, stuur ’n duidelike boodskap uit – ordentlikheid en welwillendheid is terug.

Dis net wat Amerikaners nou nodig het, berig CNN.

Biden se voorganger, pres. Donald Trump, was gewoon onbeskof en het mense met minagting en soos vullis behandel.

Verwag

Biden en Kamala Harris is Woensdag in Washington, DC, as onderskeidelik die president en adjunkpresident ingehuldig. Hulle het ’n yslike taak om ’n erg verdeelde Amerika te verenig.

Soos verwag, het Trump as uitgaande president nie die inhuldiging bygewoon nie, maar die uitgaande adjunkpresident, Mike Pence, was wel teenwoordig.

Biden het gesê dis Amerika se dag, demokrasie se dag, ’n dag van geskiedenis en hoop. “Die wil van die nasie is gehoor en ons het weer besef hoe waardevol die demokrasie is.”

Biden het gesê hy het ’n eed afgelê en hy sal ’n president wees vir alle Amerikaners, berig CNN.

“Dis ’n grootse nasie en ons is goeie mense. Ons kom ’n lang pad aan en het nog ’n lang pad om te gaan. Daar lê vir ons baie werk voor om dinge te herstel.”

Hy het beklemtoon eenheid is belangrik vir die land en almal moet saamstaan.

Biden het op sy eerste dag in die Withuis al begin werk en sekere wette verander wat Trump ingestel het.

Hy het byvoorbeeld die reisverbod teen mense van sommige Moesliemlande gelig en Amerika se lidmaatskap aan die Wêreldgesondheidsorganisasie herstel.

Hy het Amerika weer tot die Paryse klimaatsverdrag verbind en die bou van ’n muur op die Mexikaanse grens gestaak. Hy verplig Yanks nou om maskers te dra om Covid-19 te bekamp.

“Ek hoop ek kan alle Amerikaners laat saamstaan. Ons kan groot dinge doen as ons almal saamwerk,” sê Biden.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters