Verlede jaar
Kieskollege bevestig Biden het gewen
Joe Biden, Amerika se aangewese president.  ~ Reuters

DIE kieskollege het Maandag die Demokrate se Joe Biden se oorwinning in die onlangse Amerikaanse verkiesing bevestig, berig Reuters.

Biden het met 306 kieskollegestemme teenoor pres. Donald Trump se 232 geseëvier.

"In die stryd om die siel van Amerika, het demokrasie geseëvier," het Biden agterna in sy toespraak vanuit sy tuisdorp Wilmington in die deelstaat Delaware gesê.

"Dit is nou tyd om 'n blaai om te slaan soos ons regdeur ons geskiedenis gedoen het en te verenig en te genees."

Luidens Reuters se berig het Biden ook na Trump gekap wat verskeie hofaansoeke gebring het om die verkiesingsuitslag omgekeer te kry. 

"Die vlam van demokrasie is lank terug in die nasie aangesteek. Ons weet nou dat nie eens 'n pandemie of magsmisbruik die vlam kan blus nie," het Biden gesê.

Trump het verlede maand gesê hy sal die Withuis verlaat as die kieskollege Biden as wenner verklaar. Hy het sedert Maandag egter nog nie aangedui of hy wel gaan toegee dat hy die verkiesing verloor het nie.

Intussen berig AFP dat Amerika met massa-inentings teen die corona-virus begin het. 'n Verpleegster van New York was die eerste Amerikaner om die Pfizer-BioNTech-entstof te ontvang.

Amerika is die ergste deur Covid-19 getref met meer as 299 000 mense wat reeds daaraan dood is. 16,2 miljoen gevalle is al aangeteken.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters