3 maande gelede
Italië lyk sleg
BEJAARDES: ’n Dokter sê 50% van die mense wat met dié virus in waakeenhede lê, is besig om te sterf.  ~ Shutterstock

DIT gaan woes in Italië soos die corona-virus daar amok maak.

Daar het reeds 2 158 mense in dié Europese land gesterf, berig Reuters. Altesame 27 980 mense is besmet.

Net in China is meer mense aan die virus dood.

In dié Oosterse land is 80 881 besmet, 3 226 dood en 68 709 het herstel.

Wêreldwyd is 186 677 gevalle in 162 lande aangemeld, 7 471 is dood en 80 338 mense het herstel.

Dis ook die grootste mediese krisis in Italië sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Só sê Marco Resta, ’n voormalige militêre dokter en tweede in bevel van die Policlinico San Donato-waakeenheid in Milan.

Resta sê 50% van die mense wat met dié virus in waakeenhede lê, is besig om te sterf.

Selfs in die Tweede Wêreldoorlog is daar nie so iets ervaar nie.

Hy sê gewoonlik is die sterftesyfer in die waakeenheid tussen 12% en 16%.

Italië het een van die wêreld se oudste bevolkings.

Die pandemie het eerste in Lombardy en Veneto in die noorde van Italië uitgebreek. Die vermoede is dat dit begin versprei het voordat mense daarvan bewus was, berig Time.

Skraal

Geen besoekers word meer in hospitale ontvang nie en mense moet by die huis bly.

As dokters mense oor die siekes bel om hulle op hoogte te hou, weet hulle die kans is skraal dat die pasiënte gaan oorleef.

Beddens raak skaarser en daar moet eers beraadslaag word oor wie een gaan kry.

“Ons moet kyk of ouer mense iemand het wat hulle sal versorg,” sê Resta.

“Jy het iemand nodig om na jou om te sien.”

Resta sê al is daar ’n geringe kans, moet jy ’n pasiënt in die oë kyk en sê alles is oukei.

“En dis ’n leuen wat jou vernietig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters