Verlede maand
Israel peper die Palestyne
PASOP! ’n Palestynse man hardloop vir dekking in Gasastad tydens ’n lugaanval deur Israelse vegvliegtuie.  ~ Reuters

IN SEKER een van die dodelikste vierings van Eid ul-Fitr in jare in die Gasastrook is daar nog geen einde aan die konflik tussen Israel en die Palestyne nie.

Eid ul-Fitr, of Labarang, is een van die heiligste feesdae van die Moslemgeloof.

Teen gisteraand was minstens 87 Palestyne dood en meer as 480 beseer. Onder die sterfgevalle tel 17 kinders.

Aan Israel se kant is minstens sewe mense dood.

Stryders van Hamas het honderde vuurpyle na Israel afgevuur. Hamas het ook erken verskeie van sy leiers is in aanvalle dood.

Die Israelse weermag sê hy het meer as 600 teikens in die Gasastrook getref.

Dis die ergste konflik tussen Israel en Palestina sedert die oorlog in 2014 wat sewe weke geduur het.

Die twee lande is etlike dekades in ’n konflik gewikkel, maar die jongste geweld is aangevuur toe ’n hof in Israel beslis het vier Palestynse families moet uit hul huis trek. En dít in die vastyd van die heilige maand, Ramadaan.

Daar is verder sout in die wonde gevryf toe Israelse polisielede duisende aanbidders laas Vrydag aan die einde van Ramadaan in Jerusalem by die Al-Aqsa-moskee, Islam se derde heiligste plek, verjaag het.

Daar is skokgranate in die moskee gegooi.

Die Palestyne het in opstand gekom teen die gedwonge verskuiwings.

Sami Abu Salem, ’n verslaggewer van Al Jazeera, het gesê gister was Eid, maar al die mense in Gasa was in hul huise. “Kinders het nie soos gewoonlik speletjies gespeel nie en niemand was op straat nie.”

Vrede

Lande wêreldwyd het gevra die konflik moet einde kry.

Antony Blinken, Amerika se minister van buitelandse sake, het vir vrede gevra.

Die Russiese president, Vladimir Putin, pleit ook vir ’n vreedsame oplossing.

Brittanje se premier, Boris Johnson, het gevra albei partye moet ophou veg.

Turkye se president, Recep Tayyip Erdogan, het aan Putin gesê Israel moet ’n les geleer word.

Hy het ook die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gevra om teen Israel op te tree. – Al Jazeera

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters