2 maande gelede
George Floyd se moordenaar kry 22½ jaar
Jô! Die cop kniel op George Floyd se nek. Foto: WIKIMEDIA  ~ 

DIE oudpolisieman Derek Chauvin (45) is Vrydag 22½ jaar tronkstraf opgelê vir die moord op George Floyd.

Floyd se moord het een van Amerika se grootste betogings vir rassegeregtigheid in dekades laat opvlam.

The Citizen berig Chauvin het in ’n hof in Minneapolis sy medelye met die Floyd se familie gedeel voordat regter Peter Cahill ’n korter vonnis opgelê het as die 30 jaar waarvoor die aanklaer gevra het.

“Dié vonnis is nie gegrond op emosie of simpatie nie,” het Cahill gesê ná ’n intense verhoor waarin die hof na ’n opname deur Floyd se sewejarige dogter gekyk het en van Chauvin se moeder gehoor het.

Hy het bygevoeg dit is ook nie gegrond op die mening van Jan Publiek nie, maar op die wet en op die feite wat eie aan die saak was.

Hy het bygevoeg hy erken die diep en geweldige pyn wat die saak veroorsaak het, veral vir die Floyd-familie.

Chauvin, wat agter tralies sit sedert hy twee maande gelede skuldig bevind is aan drie klagte van moord en strafbare manslag, het ’n liggrys pak aangehad toe hy sy lot gehoor het ná ’n verhoor wat die wêreld geboei het.

Die African American Floyd (46) is in Mei verlede jaar dood nadat Chauvin, ’n wit polisieman in die stad Minneapolis, sy knie langer as nege minute op Floyd se nek gehou het nadat hy reeds in boeie was. 

Chauvin en drie ander polisielede het probeer om Floyd te arresteer nadat hy ’n vervalste $20-noot gebruik het om sigarette te koop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters