2 maande gelede
Eerste ruimtewandeling op China se nuwe Tiangong-stasie
space
Die Chinese Bemande Ruimteagentskap (CMSA) sê twee van sy ruimtevaarders het die kernmodule verlaat.  ~ AFP

Drie Chinese ruimtevaarders is in Junie gelanseer en het by hul land se nuwe Tiangong-ruimtestasie gedok waar hulle vir drie maande gaan bly in Chinia se langste bemande ruimtesending tot dusver.

Die Chinese Bemande Ruimteagentskap (CMSA) sê twee van sy ruimtevaarders het die kernmodule vanoggend (Sondagoggend) verlaat. 

Die eerste, Liu Boming, is met die hulp van 'n meganiese arm na 'n werkplek vervoer en die ander, Tang Hongbo, het deur ’n luik na buite beweeg. 

In 'n video van Liu wat die kajuit verlaat, roep hy uit: "Sjoe, dis alte mooi hier buite." 

Die staatsmedia berig hul sending behels om 'n panoramiese kamera buite die Tianhe-kernmodule hoër te verstel, asook om die robotarm te toets wat gebruik sal word om toekomstige modules om die stasie te verskuif. 

Dit is die eerste van twee ruimtewandelings wat vir die sending beplan is en albei sal na verwagting ses of sewe uur duur. 

Dit is ook die eerste keer sedert 2008 dat Chinese ruimtevaarders in die ruimte uit hul tuig klim. 

China se ambisie om 'n eie buitepos in die ruimte te bou, is deels aangevuur deur 'n Amerikaanse verbod op sy ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie (ISS). Die ISS is ’n gesamentelike projek van Amerika, Rusland, Kanada, Europa en Japan.  

Die verouderde ISS moet eintlik ná 2024 buite werking gestel word, hoewel Nasa gesê het dit kan dalk tot 2028 in bedryf bly. 

Tiangong sal na verwagting 'n lewensduur van minstens 10 jaar hê. China het gesê hy sal oop wees vir internasionale samewerking op die stasie. –Jacaranda FM 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters