3 maande gelede
Asem op oor Britse leier
Boris Johnson  ~ ktla.com

DIE Britse premier, Boris Johnson, is reeds Sondagaand in die St. Thomas Hospitaal in Londen opgeneem – hy het reeds amper twee weke gelede die dodelike corona-virus opgedoen.

Volgens Sky News se politieke redakteur, Beth Rigby, is hy Maandag in die hospitaal se ICU opgeneem waar hy suurstof gegee moes word oor hy met sy asemhaling gesukkel het.

Downing Street het verklaar Johnson sukkel met hardnekkige Covid-19-simpome, insluitend ’n hoes en ’n hoë liggaamstemperatuur.

Johnson (55) is nou reeds 13 dae gelede positief gediag­noseer met die virus.

Al herstel hy spoedig, sal hy in alle werklikheid nie sy werk vir die afsienbare toekoms kan voortsit nie.

In Johnson se afwesigheid staan die land se minister van buitelandse sake en belangrikste kabinetsminister, Dominic Raab, in as voorsitter van die corona-virus se “oorlogskabinet”, wat elke dag vanaf 09:15 vergader.

Die week se gereelde vergadering vir die volle kabinet is vir gister gekanselleer.

In ’n dramatiese aankondiging Maandagaand het ’n woordvoerder vir Number 10 (die premier se ampswoning) gesê die eerste minister se toestand het verswak. Hy het bygevoeg daar is besluit om hom in die ICU op te neem op advies van sy mediese span.

Die Britse eerste minister het volgens die woordvoerder gevra dat Raab vir hom moet instaan waar nodig. Hy ontvang tans uitstekende behandeling en het ál die NHS-werkers (Na­tional Health Service) vir hul harde werk bedank.

Sky News berig hy verstaan dat Johnson weens sy verswakte toestand Maandagmiddag in die ICU opgeneem is om hom te help asemhaal.

Die Britse dagblad The Sun het egter gister berig Johnson het nie meer suurstof nodig nie, is in ’n goeie luim en stabiel.

Behalwe vir die krisis vir sy regering weens sy afwesigheid in die corona-virus-rampperiode, moes sy op­name in die hospitaal ook ’n negatiewe impak op sy swanger verloofde, Carrie Symonds, gehad het.

Afmaak

Sy was ook luidens Sky News in self-isolation, maar word nou beter.

Sedert die eerste minister op 26 Maart met die virus gediagnoseer is, het hy die ernstigheid van sy siekte as minder ernstig probeer afmaak. Hy’t selfs video’s van hom aanlyn geplaas, hoewel hy maar olik gelyk het.

Selfs net voordat hy Maandag na die ICU oorgeplaas is, het die premier ’n positiewe boodskap op Twitter gepost waarin hy sê dat hy op advies van sy dokters Sondagaand hospitaal toe is vir “roetine-toetse”.

“Ek is in ’n goeie bui en bly in kontak met my span sodat ons kan saamwerk om die virus te beveg en almal veilig te hou.”

Ná die skok-nuus oor sy ICU-opname het hy boodskappe van ondersteuning van regoor die wêreld gekry, insluitende van sy politieke teenstanders in Brittanje.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters