17 dae gelede
WKOD gaan teen prez se besluit
ANGSTIG: Ouers het laas week strate toe gegaan om hul stem dik te maak en ’n beroep op die departement van onderwys te doen om die skole te sluit.  ~ Jonathan Lestrade

DIT lyk asof daar nou politiek met leerders se lewens gespeel word in die peak van die corona-virus-pandemie.

Pres. Cyril Rama­phosa het Donderdagaand aangekondig dat openbare skole vir ’n maand (27 Julie tot 24 Augustus) gesluit sal bly vir die meeste leerders. Maar die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het anders besluit.

Ramaphosa het gesê matrikulante moet slegs ’n week tuis bly, maar die WKOD wil hê die ander leerders en onnies moet ook vroeër inval.

Die DA het gedreig om hof toe te gaan om leerders in die skool te hou.

Volgens Brian Schreuder, hoof van die WKOD, is hulle ten gunste van die besluit dat alle leerders en onnies vir ’n week (vanaf 27 Julie tot 31 Julie) tuis kan bly.

Hy het ook voorgelegde datums uitgewys.

Schreuder sê: “Alle gr. 12-leerders, onderwysers en die skool se bestuurspan moet op 3 Augustus terugkeer skool toe. Gr. 7-leerders sal op ’n twee weke breek wees en op 10 Augustus terugkeer.

“Alle onderwysers, asook personeel wat nie skoolhou nie, moet teen 17 Augustus terug by die skool wees om voor te berei vir die ander grade wat terugkeer skool toe.

“Ek wil graag vir hoofde van ons hoërskole vra om seker te maak dat die leerders en onderwysers genoeg rus kry tussen 27 Julie en 3 Augustus.”

Schreuder sê skole wat aansoek gedoen het om grade terug te bring ná die eerste week tuis, mag voortgaan indien die skoolgemeenskap met hulle saamstem.

Intussen is die Gautengse minister van onderwys, Panyaza Lesufi, teleurgesteld oor die WKOD Ramaphosa se besluit wil teenstaan.

Lesufi sê: “Die Gautengse regering neem met teleurstelling kennis van die posisie wat die WKOD ingeneem het om teen die president te gaan. Ons kan nie toelaat dat mense die president ondermyn nie.”

Geluister

André de Bruyn, voorsitter van die onderwysersunie Eusa, sê die unie stem saam met Ramaphosa dat skole vir ’n volle maand moet sluit.

De Bruyn sê: “Alle ouer­organisasies, skoolbeheerliggame en unies is bly dat die president geluister het en die skole vir ’n tydperk toegemaak het.

“Eusa is egter nog onveranderd in sy standpunt dat alle skole, privaat en staat, moet toemaak en toe bly tot die ergste van die pandemie verby is of totdat daar ’n entstof op die mark is.

“ ’n Week se toemaak vir matrieks is korter as die tyd wat mense moet self-isoleer.

“As ons gaan kyk watter leerders positief toets, sal ons sien dis meestal senior leerders, wat matrikulante insluit. Hulle is nie immuun teen die virus nie en moet ook toegelaat word om veilig te wees.

“Niks gaan in ’n week of twee verander tensy ons gaan optree teen die president se opdragte nie.

“Ons voel dat die twiets van ’n sekere WKOD senior amptenaar ook oorkom as disrespekvol.”

De Bruyn sê Eusa sal voortgaan om vir die lewens van onnies en leerders te veg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters