26 dae gelede
Winde staan sterk oor Wes-Kaap se entstof
alan winde,zweli mkhize
Dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het tydens sy besoek aan die Wes-Kaap gesê dis nie nodig vir provinsies om hul eie entstof te kry nie.  ~ Twitter

DIE Wes-Kaapse premier, Alan Winde, hou vol die provinsie gaan steeds sy eie vaccines verkry.

Dít ondanks die feit dat die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, Maandag gesê het dis onnodig vir provinsies om hul eie entstowwe te verkry.

Mkhize sê dit sal nie sin maak vir al nege provinsies om die tesourie individueel vir afwyking van hul begrotings te vra om geld vir die entstowwe beskikbaar te stel nie.

Volgens hom maak dit meer sin vir die nasionale regering om vir een afwyking te vra.

Dan is daar ’n kwessie van waarborge wat die betrokke land aan die entstof-vervaardigers moet verskaf.

Dis iets wat net op ’n nasionale vlak kan plaasvind, sê Mkhize.

Hy sê verder die vervaardigers hanteer net bestellings op grootmaat. Dit kan daartoe lei dat ’n provinsie uiteindelik in ’n situasie kan wees waar hy met te veel entstowwe sit.

Mkhize sê die land sal na verwagting groter besendings dosisse tussen 15 Mei en 17 Oktober ontvang.

Dis vir die tweede fase van die inentingsproses, wat op senior burgers sal fokus.

Winde het vroeër gesê die Wes-Kaap sal sy entstowwe vanaf die nasionale regering verkry.

Hy hou egter steeds vol, selfs ná Mkhize se onlangse kommentaar, dat dié provinsie sy eie entstowwe sal verkry.

Winde se woordvoerder, Cayla Murray, sê: “Minister Mkhize het ons geadviseer dat die nasionale verkryging van vaccines goed voortduur.

“Daar sal 46 miljoen vaccines vir die land verkry word, waarvan 4,7 miljoen in die Wes-Kaap gebruik sal word.

“As ’n provinsie sal ons voortgaan met ons verkrygingstrategie sodat ons bly voorberei om aanvullende vaccines te verkry indien dit nodig is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters