13 dae gelede
Wes-Kaapse Covid-getalle stabiliseer
KOPSEER: Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, sê die Weskus is die enigste distrik wat nog nie gestabiliseer het nie.  ~ Facebook

DIE Wes-Kaapse Covid-19-gevalle is besig om te stabiliseer – behalwe vir die gevalle aan die Weskus.

Só het die provinsiale gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, Dinsdag tydens die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se weeklikse virtuele perskonferensie gesê.

Cloete sê verder Covid-19-verwante sterfgevalle wys ook ’n mate van stabilisasie, maar die getalle bly nog hoog.

Hy vermaan mense weer om enige byeenkomste te vermy, al is dit klein familievergaderings, want dis waar die meeste van die nuwe gevalle in sommige van die distrikte die siekte aansteek.

Hy sê: “Die meerderheid van gevalle spruit uit familielede in sekere huishoudings of extended familielede wat familiebyeenkomste bygewoon het.”

Cloete het ook gesê die verbod op die verkoop van alkohol het ’n positiewe impak gemaak op die beskikbaarheid van beddens in hospitale.

Hy sê ná die inwerkingstelling van die alkoholverbod laat laas maand het traumaverwante hospitaaltoelatings met 51% verminder.

Hy sê verder daar was ’n 65%-daling in traumaverwante hospitaalopnames op Nuwejaarsdag in vergelyking met laas jaar.

Besmet

Oor die entstof sê Cloete almal sal dit moet kry, al was die persoon voorheen positief getoets vir die corona-virus.

Hy sê daar is nog nie genoeg bewyse dat iemand nie weer ander met die virus kan besmet as hy of sy al positief getoets is nie.

Cloete sê verder gesondheidswerkers word ook deur die virus geraak en sover is 8 088 van hulle al positief getoets.

Daar is tans steeds 1 029 aktiewe gevalle onder gesondheidswerkers in die Wes-Kaap, wat beteken hulle is in isolasie.

Hierdie getal sluit in 442 verpleegsters, 98 dokters, 23 radioloë, 7 aptekers en 459 algemene werkers.

“Ongelukkig het 92 gesondheidswerkers al tot dusver weens Covid-19 gesterf,” sê Cloete.

Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, bedank die personeellede wat voortgaan met hul harde en goeie werk terwyl hul kollegas nog in isolasie is.

Winde sê inwoners moet alles in hul vermoë doen om die syfer af te bring.

hy benadruk die ekonomie moet weer geopen word – maar dit kan nie gebeur terwyl die getalle steeds so hoog is nie.

Hy moedig almal aan om skares te vermy en alle protokolle te volg soos al soveel keer herhaal is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters