27 dae gelede
Werkers worry
WAAI
WAAI: Franklin Koopman sê sy kommer oor social distancing het hom sy werk gekos.  ~ KALLIE SMIT

SARON. – ’n Man is sy werk kwyt ná ’n rusie met sy bestuurder oor Covid-19-regulasies.

Franklin Koopman (45) sê hy is Maandag in die pad gesteek omdat hy het oor social distancing gekla het.

Koopman sê Rupert Erasmus, bestuurder op die plaas Lushof, het die werkers die week vantevore oor maskers en sanitiser aangespreek. Toe hy wou weet wat van social distancing, is hy aangesê om huis toe te gaan en Maandag terug te keer vir ’n verhoor. Hy is toe afgedank.

Koopman sê: “Ek het gekla oor die mense so op mekaar sit agterop die lorries. Hulle gooi toe sommer ander klagtes teen my ook voor, soos toe ek my masker afgehaal het toe ek huis toe gestuur is.”

Talle dorpenaars wat op plase werk, het by Son gekla oor hul vrees vir hul gesondheid nadat verskeie plaaswerkers – die meeste uit die Oos-Kaap – positief vir die corona-virus getoets is.

Seisoenale

Plaaswerkers is veral bekommerd dat hulle soos sardientjies in ’n blik op lorries vervoer word.

’n Vrou van die Oos-Kaap wat op dieselfde plaas as Koopman gewerk het, is na bewering twee weke gelede aan die corona-virus dood.

Son het vertroulik verneem 80% van die plaaslike aktiewe Covid-19-gevalle is seisoenale werkers van ander plekke. Die meeste van hulle word glo nie gescreen nie.

Dorpenaars kla plaaswerkers wat Vrydae dorp toe kom om hul pay te trek en inkopies te doen, steur hulle min aan Covid-reëls.

Een wat anoniem wil bly, sê: “Baie mense maak nou groot geld deur sinkhokke op hul persele vir die mense van buite op te rig en aan hulle te verhuur.

“Dit maak die gesondheidsprobleem net erger.

“Wanneer die dorp se mense ’n blyplek wil bou, moet hulle ’n plan indien en by die bouregulasies hou.

“Maar wanneer sommige mense sinkhokke vir inkommers oprig, soms in gegoede woonbuurte, kyk die munisipaliteit anderpad.”

Rdl. Hannes Smit sê daar is verlede week samesprekings met boere, belanghebbendes en die departement van gesondheid en van landbou gehou om te kyk of die Covid-19-regulasies nagekom word.

Erasmus sê by navraag oor Koopman: “Hy kon sy werk behou het as hy nie so ’n attitude gehad het nie en om verskoning gevra het. Toe die lorriedrywer hom voorverlede Maandag vra om sy masker op te sit, het hy geweier en vir die drywer gevra wat van social distancing.

Hy het die volgende dag geweier om sy masker in die kantoor op te sit toe ek met hom wou praat. Die wet sê ons is op level 1 en ons kan vol kapasiteit ry.

“Die aktiewe gevalle, van wie die meeste seisoenale werkers van die Oos-Kaap is, is onder kwarantyn of het die plaas verlaat. Ons hou die raadslid op hoogte van die toestand op die plaas. Koopman is afgedank oor hy die reëls en regulasies van die plaas oortree het.”

Aangemeld

Steven Joachims, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, sê: “Die boere moet alle Covid-19-protokols volg.

“Ons werk saam met hulle in dié verband. Geen oorvol lorries is toelaatbaar nie en alle gevalle moet by die kliniek aangemeld word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters