Verlede maand
Werkers leef in vrees vir virus
GROOT OESTYD: Daar is bekommernis oor die corona-virus-gevalle onder plaaswerkers in die Bergrivier-munisipaliteit.Foto: NETWERK24  ~ 

DIE corona-virus kan moontlik wyd onder plaaswerkers in Piketberg versprei word.

Só sê die voorsitter van die Good-party in die Bergrivier-streek, Rhime Laubscher, nadat Covid-19-gevalle op ’n plaas buite dié dorp aangemeld is.

Die betrokke druiweplaas het hostelle vir sy duisende seisoenwerkers op die perseel.

Laubscher sê sosiale distansiëring by dié woonplekke is weens oorbevolking onmoontlik.

Hy sê: “Ons het oproepe van plaaswerkersforums en plaaswerkers ontvang in verband met die Covid-19-pandemie wat werknemers raak op ’n plaas wat druiwe uitvoer.

Krisis

“Tientalle werkers is vir die corona-virus positief getoets. Baie van hulle moet na die hostelle terugkeer waar hul kollegas die risiko loop om ook met die virus besmet te word.”

“Plaaswerkers op dié plaas vra die Wes-Kaapse departement van gesondheid om ’n krisis en super-spreading event op dié plaas te vermy.”

’n Plaaswerker wat uit vrees vir viktimisering anoniem wil bly, sê daar is sewe corona-virus-gevalle in haar afdeling.

Volgens dié werker is daar sowat 700 werkers in haar afdeling.

Sy sê: “Die mense wat positief getoets is, bly nou in ’n aparte woonplek, maar hul mense, wat ook ons kollegas is, moet daagliks vir hulle kos neem.

“En hulle gee nie net die kos vir hulle nie. Hulle sit en gesels, en dit kan ons in gevaar stel.

“Ons het die bestuurder gevra hoekom ons almal nie getoets word nie, want ons was in kontak met die mense wat positief getoets is.

“Toe sê hy (die bestuurder) dis nie nodig nie, want ons het nie simptome nie.

“Dan is daar mense wat ook getoets is. Hulle wag nog vir hul toetsuitslae, maar hulle is nie in isolasie nie – ons is baie bang vir dié virus.”

Rondkuier

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid sê hy is bewus van “gerugte” dat ’n groot aantal werknemers van die plaas positief getoets is.

Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, sê die grootste challenge in sy munisipaliteit, veral in Piketberg wat die hotspot is, is jong mense wat rondkuier.

Nog ’n uitdaging is baie polisie­lede wat in self-isolasie is omdat hulle positief getoets is.

Volgens hom is daar tans 499 aktiewe gevalle in Piketberg.

“Mense moet ophou rondloop,” sê hy. “En naweke kom baie van die plaaswerkers dorp toe en daar is geen social distancing nie.

“Ons het die winkels en banke gewaarsku hulle moet sorg dat daar social distancing in hul winkels en ATM’s is, anders gaan ons stappe teen hulle doen.”

Die hoof van die Covid-19-moniteringsgroep in die Weskus, Aletta Haasbroek, sê hulle het bevestig daar is agt werkers wat positief getoets is vir die virus.

Volgens haar is die “samewerking van die plaasbestuurders uitstekend”, want daar is ’n isolasie-fasiliteit op die plaas om te verseker die virus word nie onder die werkers versprei nie.

Sy verseker die gemeenskap dat die moniteringspan gou reageer as daar iemand is wat positief getoets is.

Kommentaar

“Die departement bly in kontak met rolspelers soos plaasboere om hulle en hul werknemers te steun in hierdie moeilike tyd,” sê sy.

Son het probeer om die betrokke plaas vir kommentaar te nader. Ons het die nommer probeer skakel wat op hul website verskyn, maar ons oproepe is onbeantwoord gelaat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters