13 dae gelede
Wag ’n wager
SELDE STORIE: Ook in Goodwood het mense in lang rye by die poskantore en departement van arbeid se kantore gestaan.  ~ Peter Abrahams

MENSE is siek, honger en hopeloos.

Boonop hou hulle nie ’n veilige afstand terwyl hulle voor verskeie Sassa-kantore in rye staan nie.

Dis nou wel nie die deathtrap waarna pres. Cyril Rama­phosa Maandagaand in sy toespraak Maandagaand verwys het nie; dit is ’n probleem wat die regering self veroorsaak het. Bekommerde inwoners wil weet wie dit gaan regstel – en hoe.

Son is gister oorval met foto’s en video’s oor die benarde situasie buite die Sassa-kantoor in Eersterivier. Mense wag hul beurt af, maar g’n afstand word gehandhaaf nie.

Son het vroeër berig honderde mense staan by Sassa-kantore tou.

Dit was Vrydag ook die geval by Sassa se Bellville-kantore, wat omstreeks 14:00 gesluit en honderde weggewys het.

Opgedaag

Intussen verontagsaam desperate begunstigdes Covid-19-regulasies. Hulle oortree die curfew om so vroeg moontlik in die ry te kom.

Dit was presies die geval toe ’n vrag mense by die Sassa-kantoor in Eersterivier opgedaag het.

Desperate begunstigdes het volgens ’n inwoner kort ná die president se speech al by die kantoor opgedaag in ’n poging om eerste gehelp te word sodra die deure oopmaak. Komberse en stoele is saamgeneem.

Dít kom kort nadat Sassa Saterdagaand laat getwiet mense het kan by hul naaste kantore heraansoek doen om ’n tydelike ongeskiktheidstoelaag.

SOEK ANTWOORDE: Mense wil weet wat van hul ongeskiktheidstoelae geword het. Foto: Peter Abrahams

Vir Julie de Bruin van Eersterivier is dit te gevaarlik om nou in een van daardie lang rye te staan. Sy het teruggekeer huis toe – sonder die geld wat sy baie nodig het. De Bruin was een van honderde mense wat vroeg Dinsdagoggend tougestaan het.

“Kort ná die president se toespraak het inwoners met komberse en stoele voor Sassa hul plek ingeneem. Mense is so desperaat, hulle wil eerste in die ry wees.

“Dit is onmenslik, onaanvaarbaar en teleurstellend dat mense tydens ’n pandemie só moet optree.

“Ek het maar besluit om terug te keer huis toe omdat ek nie my gesondheid in gevaar wil stel nie, maar baie mense is so desperaat dat hulle nie die gevaar daarin sien nie,” sê sy.

De Bruin sê dit is die president se skuld dat mense só optree en dat die regering verantwoordelik is vir die mense wat gaan siek word.

‘‘Mense het van oral gekom omdat ander Sassa-kantore as gevolg van positiewe gevalle gesluit is. Nou kom die mense só op een hoop bymekaar,” sê sy.

Onmoontlik

‘‘Die president moet self kom sien wat hier aangaan.

“Die geld wat hulle gestop het, moet vir die volgende drie of vier maande weer uitbetaal word. Hoe kan hy die geld in dié tyd stop? Sonder daardie geld kan mense onmoontlik leef.”

CHAOS: Mense drom saam by number 42 in Eersterivier. Foto verskaf

Yusuf Chotia was ook vroegoggend by die Sassa-kantoor in Eersterivier. Hy sê hy wonder of hy sy gesondheid in gevaar moet stel ter wille van ’n R2 000-toelaag wat nou verval het.

Nellie Plaatjies het al die pad van Macassar na Number 42 (Main Road) gekom.

’n Ontstelde Plaatjies sê: “Daar is vir ons gesê daar is ’n Covid-geval by die Eersterivier-kantoor, maar daar is nie eens ’n nota opgeplak om mense in kennis te stel nie. Ons het nie ’n ander keuse as om tot môreoggend toe hier te wag nie.”

Susan Louis deel Plaatjies se frustrasie. Sy sê ook daar is geen social distancing nie.

Die kantoor van die Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, sou eers gister laatmiddag vergader en kon dus nie op navrae reageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters