Verlede maand
Virus trek raadslid en gesin plat
positief: Angus McKenzie en sy hele gesin het tans Covid-19 onder lede. Foto: melinda stuurman  ~ 

DIE corona-virus het Angus McKenzie en sy hele gesin ook nou platgetrek.

McKenzie (38), raadslid van Bonteheuwel, sy vrou, Kelly (38), en drie seuns van 4, 8 en 10 jaar oud het almal die virus onder lede.

Hy sê sy vrou het Saterdag 9 Januarie simptome van die virus begin toon. “Nie een van ons was in aanraking met iemand wat die virus het nie. Ons gaan net na die plaaslike supermark toe.

“Van Maandag af het ek ook simptome begin kry en Woensdag het ál drie ons seuns ’n koors begin ontwikkel en hul kele het seer begin word.”

McKenzie sê hulle het Vrydag toetse laat doen en later is bevestig dat hulle positief vir Covid-19 is.

Afsondering

Hy het gister gesê hul reuksintuig is aangetas, hulle het koors en is lyfseer, het hoofpyn, seer kele en is baie moeg.

“Ons slaap baie. Dit is erger by ons as by die kinders. Ons werk nou saam ons dokter, Shafiek Jacobs, om deur dit te kom en bly in afsondering.”

McKenzie sê mense daar buite moet weet van die virus en dat dit almal raak.

“Bly asseblief by die huis. Moenie met ander familielede en vriende meng nie.

“Dra jou masker, hou jou hande skoon en hou jou afstand van mense af.”

Hy vra dat almal hulle in hul gebede hou en om ook self veilig te bly.

“Baiekeer kan mense trace waar hulle die virus opgedoen het, maar soms weet ’n mens glad nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters