11 dae gelede
Virus oorheers steeds nuus
Maak stem dik: Leerkragte van Athlone het vandeesweek geprotesteer oor Covid-vrese in skole. Foto: Peter Abrahams  ~ 

DIÉ week het die minister van finansies, Tito Mboweni, ons in sy zero-based aangepaste budget speech vertel die land sal op die Bybelse “smal weg” moet beweeg.

Want danksy die virus, werkloosheid, skuld, en nog lenings, kan ons as land onderdeur wees.

Soos gewoonlik het Covid-19 die week se nuus oorheers en die budget was net een van talle stories.

Kom ons vat saam:

  • Op 22 Junie berig Son oor ’n virus-pasiënt wat nie net die virus moes beveg in die privaat hospitaal Kingsbury in Claremont nie, maar sommer ook bevoeling deur ’n sekspes.

Selfs nadat die anonieme pasiënt gekla het dat die male nurse nie na hom moet omsien nie, het dit nie gelyk asof die hospitaal hom eintlik daaraan steur nie.

Tot sy girlfriend moes die hospitaal bel sodat sy probleem gehoor kon word.

  • Op dieselfde dag vra voorsitters van 21 skoolbeheerliggame in die Paarl en Wellington wie verantwoordelikheid sal neem sou ’n leerder by die skool aan die virus sterf.

Hulle vra juis ook dat skole gesluit bly totdat die land op vlak 1 is.

Van die onderwysers is ook gegrief, maar hulle moet skool toe, want reëls is reëls en hulle kry pay.

  • Op 24 Junie berig Son oor die jong moordenaar wat lekker vry rondstap daar in Buffeljagsrivier nadat hy net vier maande lank gemang het vir moord.

Sergio Jonkers (23) is mos uit op parool. Hy is losgelaat as deel van die departement van korrektiewe dienste se poging om die virus in tronke te bekamp.

Jonkers het erken hy het Fransionette Jantjies (23), ’n verlangse niggie van hom en ’n jong ma, met ’n scarf verwurg.

  • Op 25 Junie berig Son dat grafte nou soos oop wonde lê en gaap in die provinsie.

Die Wes-Kaap het steeds die meeste sterftes aan die virus en die meeste positiewe gevalle.

Die geprojekteerde virus-sterftes is tussen 5 000 en 10 000 soos die virus se peak naderkom.

Daar is selfs ’n kans vir massagrafte as die sterftesyfer die begraafplase sou oorweldig.

  • Op 26 Junie berig Son dat onnies se senuwees klaar is. Hulle het betoog daar in Athlone.

Een wou weet teen watter koste hulle nog moet voortgaan met skool terwyl hulle hulself en die kinders aan die virus blootstel.

Daar was selfs ’n kind wat op die eerste dag van skool nie ’n masker wou dra nie, maar hulle kon haar nie wegjaag nie. En sy’t almal in gevaar gestel.

Nog een wou weet hoekom die skole nie kan sluit soos in 1976 nie, toe daar nie eens ’n siekte was nie.

Maar Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, sê dit was die besluit van die minister van basiese onderwys, Angie Motshe­kga, om die skole te heropen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters