2 maande gelede
Virus nie ál risiko nou
EINDE VANNIE PAD: Ralph Sultanie is dood onderweg huis toe ná ’n gewag vir sy grant.  ~ Peter Abrahams

’N BEJAARDE man van Vanguard Estate het ure gewag om sy grant te trek, maar nooit die kans gekry om die geld te geniet nie.

Ralph Sultanie (74) het net klaar sy toelaag in die Vangate Mall getrek en was op pad huis toe toe hy omval.

’n Verbyganger het Sultanie op die sypaadjie van Vangaurd Drive aangetref, vertel sy landlord, Rudiwan Ajam.

Sultanie het 12 jaar lank woonplek by hom gehuur, sê Ajam (44).

“Ek was by die werk toe iemand my bel om te sê hy het omgekap. Hy het nog gelewe toe die persoon my gebel het, maar hy is op die toneel dood.”

Son verneem hy het nog op die ambulans gewag toe hy dood is.

Ajam sê Sultanie het probleme met sy asemhaling gehad en is behandel daarvoor. Die omie was ongetroud en het geen kinders gehad nie.

Sultanie is een van honderde bejaardes wat gister ure moes toustaan om hulle maandelikse staatstoelaag te trek.

Pres. Cyril Ramaphosa het die grant-datum vir pensioentrekkers ’n week gelede met twee dae vervroeg weens die lockdown.

Maar die bejaardes was gister niks im­pressed met Ramaphosa of Shoprite, wat ’n betaalpunt was, nie.

“Dis nie reg gereël nie,” meen ’n man (61) van N2 Gateway in Delft. “Hier moes paramedics gewees het om die mense te help. Vier mense het omgekap terwyl ek hier gestaan het.”

Die man sê hy net ná 06:00 by die Delft Mall opgedaag. “Die manne wat by die hekke staan, het niks access con­trol nie.

“Dis nie reg teenoor ons dat ons so moet staan nie. Soos ons hier staan, kan ons makliker die virus kry.”

Annie Julies (69) van Delft-Suid het Sondagaand al gaan queue. Sy het die mall gister net ná 11:00 met ’n paar benodigd­hede verlaat.

Julies moan: “My rug en bene en alles pyn van die gewag.”

  • In Belhar by Airport Mall het mense ook vroegdag al gaan toustaan.

Jubaida Menges (61) sê die probleem by die mall was toe hulle drie toue gevorm het.

Voorkeur

Menges meen: “As daar een lyn was, was daar nie ’n probleem nie, want dan kon hulle die ou mense uit die lyn gehaal het en vroeër laat ingaan het. Nou word die mense met cash eerste ingelaat.”

’n Vrou (61) van Leiden wat haar geld in Belhar gaan trek het, sê: “Hulle gee die jongelinge wat kom shopping doen, voorkeur.

“ ’n Klomp pensioners het al siek geword hier. Dis mos nie reg nie.

“Die president het gesê vandag is óns dag.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters