LADISMITH. – Versigtigheid is die moeder van wysheid.
Só vertel Konst. Aneist Lingerveldt (26), ’n boorling van Dysselsdorp wat werk by die plaaslike polisiestasie, nadat hy die corona-virus opgedoen het.
Lingerveldt vertel: “Ek is superfiks. Ek leef gesond, maar tog het die noodlot my op 23 Junie getref. Ek kon dit nie glo nie.
“Ek is die Maandag in die Mediclinic-hospitaal opgeneem en die Dinsdag is ek oorgeplaas na die kwarantyn fasiliteit by PetroSA buite Mosselbaai.” Maar Lingerveldt sê hy was nie bang nie. “Ek het geweet God is by my en dat ek ’n baie gesonde en fikse persoon is met geen onderliggende siektes nie.”
Hy sê wel dat kwarantyn ’n groot aanpassing was.
Geloof
Hy het egter tot die besef gekom dat dié virus of siektes niemand se toestemming vra om jou liggaam binne te dring nie. Maar dit hang af van jou as mens en wat jy gaan doen in sulke moeilike situasies. Lingerveldt sê hy het elke dag ACC 200, Airmune, Corenza en parasetamol gebruik.
“God is groot en het die laaste sê oor jou lewe. Die Bybel sê God het reeds die battles vir ons gefight aan die kruis. Ons as sy kinders moet net geloof in Hom het.”
In die tweede week het hy beter begin voel met geen liggaams- of hoofpyne soos wat hy in die eerste week ervaar het nie.
“Ek wil almal bedank wat my ondersteun het. Die virus is nie altyd dodelik nie. Ek het ten volle herstel deur die genade van God en is nou selfs sterker,” sug ’n dankbare en verligte Lingerveldt.