12 dae gelede
Virus het talle werkers op hol
bang: Werkers van Checkers in Springbok het geweier om te werk. Foto: Isaac Cloete  ~ 

WERKERS van ’n groot winkelgroep het die naweek geweier om verder te werk nadat een van hulle positief getoets is vir Covid-19.

Philippa Brand (50) van Okiep, ’n vroulike werker by Checkers in Springbok, is onlangs positief getoets.

Sy het onmiddellik haar status bekend gemaak nadat sy Vrydag via WhatsApp die uitslag gekry het.

“Verkondig dit orals; dis ek wat positief getoets is. So, wees bewus dat die virus hier by ons is,” het sy gesê.

“Ek kon dit net opgedoen het in Checkers, waar ek werk, en nie elders nie.”

Antwoorde

Werkers het Saterdag volstrek geweier om die winkel binne te gaan. Hulle het buitekant gestaan en antwoorde gesoek.

Volgens hulle het die bestuur gesê dat die winkel die vorige aand ontsmet is en veilig verklaar is.

Hulle wou nie daaraan byt nie en het gesê dit moet minstens vir 24 uur gesluit word.

Ander wou hê dat ál die werkers vir 14 dae onder kwarantyn geplaas moet word.

Dit het intussen aan die lig gekom vier ander werkers wat met Brand in kontak was, is onder kwarantyn geplaas.

Spokie von Abo, bestuurder van Checkers in Springbok, sê sy gaan nie met die media praat nie.

Dina Beukes, distriks­bestuurder van die gesondheidsdepartement, het Saterdag in Springbok bevestig Brand is positief getoets.

Gemaan

Beukes het die publiek gemaan om tog maar die veiligheidsmaatreëls vir Covid-19 toe te pas.

Sy het gesê: “Ek was ook Vrydag in Checkers.

“Dra jou masker en probeer om so min moontlik uit te gaan na winkels of groot winkelsentrums.

“As jy moet, pas dan sosiale distansiëring toe en saniteer jou deeglik.”

Tans staan die Covid-19-syfer in die Nama-streek op 14 bevestigde gevalle, waarvan 5 genees is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters