9 dae gelede
‘Veiligheid ons job, nie polisie s’n’
PARAAT: Inwoners maak nou seker tot die kleinspan verlaat nie hul huis sonder ’n masker nie. Foto: Mpumi Kiva  ~ 

MOSSELBAAI. – Inwoners van Sonskynvallei maak nou seker dat niemand, veral nie die kinders, sonder ’n masker op straat rondloop nie.

Hierdie optrede volg nadat baie mense die laaste ruk weens Covid-19 van hul geliefdes verloor het.

Die inwoners glo dit is nie net die polisie se taak om seker te maak dat almal in die openbaar ’n masker dra nie.

In die klein gemeenskap van Sonskynvallei vier armoede en werkloosheid onder die jeug hoogty.

Josia Meintjies (61) sê weens die virus het hy die afgelope twee maande ’n familielid en twee vriende aan die dood afgestaan. “Dis nie net die regering se plig om seker te maak dat Covid-19-regulasies nagekom word nie.

Beskerm

“Ons as gemeenskap moet ook ons deel doen deur by die reëls te hou. Ons raai mense aan om nie sonder ’n masker rond te loop nie. Covid-19 is nie ’n joke nie; dis ’n realiteit.”

Nog ’n inwoner, die 51-jarige Dodo Prins, sê dis hoog tyd dat mense vir hul eie lewe verantwoordelikheid vat.

“Ons weet wat ons moet doen om onsself te beskerm. Ons kan nie pretend niks skort as mense rondom ons dan aan die virus sterf nie.”

Gertrude Simms, ’n plaaslike kerkleier, sê dit is goed dat mense nou volle verantwoordelikheid vat. “As ons nie ons familie en gemeenskap beskerm nie, kan ons nie hierdie virus oorwin nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters