21 dae gelede
Vat so, virus!
SPRINGLEWENDIG:Kathe­rine Dorothy Newman is fris en gesond nadat sy Covid-19 ’n uitklophou gegee het.  ~ Foto Verskaf

’N WES-KAPENAAR is een van die oudste mense wat Covid-19 oorleef het.

Ouma Katherine Dorothy Newman (93), ’n inwoner van die Huis Nuweland, het op 2 Junie siek geraak.

Met ’n toets is daar toe bepaal ouma Katherine het die corona-virus onder lede.

Sy is nie dadelik in die hospitaal opgeneem nie. Versorgers het na haar gekyk terwyl sy in isolasie was.

Luidens ’n persverklaring van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, is ouma Katherine in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem nadat sy begin sukkel het om asem te haal. Sy is daarna in die Hospital of Hope versorg.

Ouma Katherine is op 3 Julie ontslaan en was fris en gesond toe sy terug is ouetehuis toe.

Volgens William Newman, haar seun, was hulle as gevolg van haar ouderdom baie bekommerd toe sy siek word.

William sê: “Hierdie nuus was kommerwekkend vir die familie oor my ma se gevorderde ouderdom, maar ons familie was getroos deur die feit dat Huis Nuweland baie pro-aktief was.

“Hulle het die hoogste vlak van beheer ingestel om die impak op hul geliefde inwoners en personeel te beheer.”

Volgens hom was hulle in hul skik met die dokters by die Hospital of Hope. Hulle het die familie op die hoogte gehou van ouma Katherine se vordering.

William sê die beste nuus was toe hulle hoor sy ma is nie meer siek nie en sy is nie meer met die corona-virus besmet nie.

“Dit was vir die familie baie hartseer en uitdagend dat ons haar nie kon sien terwyl sy in die hospitaal was nie.

“Ons moes dit in die konteks van Covid-19 se protokol aanvaar – wetende dat dit die beste vir almal is.

“Met dié dat Huis Nuweland reeds vanaf Maart streng protokol ingestel het, het ons alreeds baie min kontak met haar gehad.”

William sê dit was ook vir sy ma ’n uitdagende en verwarrende tyd toe sy tussen Huis Nuweland en die onderskeie hospitale geskuif is.

Hy voeg by dit was nie vir sy ma maklik om sonder enige familielede na aan haar en tussen onbekende dokters en gesondheidswerkers te wees nie. Maar sy het deur hierdie ordeal gekom en só net weer gewys sy het steeds die veggees wat sy ál die jare van haar lewe getoon het, sê William.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters