17 dae gelede
Uit kake van dood
Joan Pieterse (52)  ~ Facebook

“EK HET my voorberei op die dood, want ek was oortuig ek gaan sterf.

“Maar toe ek hoor hoe my seun soebat dat ek nie moet sterf nie, het ek met alles in my geveg om aan die lewe te bly.”

Die 52-jarige Joan Pieterse van Kraaifontein is ’n survivor van Covid-19.

Dié ma van drie sê haar nagmerriestryd teen die virus het op 4 Desember begin.

“Ek het opgestaan met ’n vreeslike kopseer. Later die dag het ek kouekoors gehad.

“My man het my na die dokter geneem vir ’n toets. Terwyl hulle nog die toetse doen, het ek flou geword.”

Volgens Pieterse het sy aanhoudend opgegooi nadat sy haar bewussyn herwin het.

“Die dokter het my terug huis toe gestuur. By die huis het dinge verder vererger.

“My seun het ná ’n gesprek met een van sy vriende wat ’n gesondheidswerker is, daarop aangedring ek moet maar hospitaal toe gaan.”

By die Karl Bremer-hospitaal is sy op ’n drup gesit en suurstof gegee­. Daarna is hulle inderhaas met haar na die Brackengate-veldhospitaal vir Covid-19-pasiënte.

“Drie weke het ek diarree gehad. Ek was in ’n kimbie,” vertel sy. Pieterse was altesaam 20 dae op suurstof.

“Ek kon nie asemhaal nie. As ek wou eet, het ek opgegooi,” vertel sy.

Sy sê sy’t gehoor hoe die nurse vir haar seun sê dit lyk nie asof sy dit gaan maak nie. “My seun het met my gepraat en by my gesoebat om te fight.

“Hy’t gesê hy sal nie sonder my kan lewe nie. Sy woorde het my veggees gegee.”

Pieterse sê die veldhospitaal is soos ’n pakhuis.

“Die beddens is sowat 1,5 m uitmekaar. Jy sien hoe gaan die mense om jou dood.

“Ek het self met die dood geworstel en die vreeslikste nagmerries gekry. Maar ek het ook die Here se stem gehoor. Hy het gesê Covid-19 gaan nie nou stop nie. Dit gaan erger word en mens sien hoe baie predikers en kinders van die Here doodgaan.”

Ontslaan

Sy sê sy het baie gebid en haar lewe oor en oor aan die Here gegee. “Ek het die boek Openbaring gelees. Die mens moet terugkeer na God.”

Pieterse is op Nuwejaarsdag ontslaan. ’n Video wat haar familie gemaak het, wys hoe haar dogter voor die hek van die veldhospitaal kniel en die Here huilend dank vir haar ma se genesing.

Pieterse sterk nog aan en bly in isolasie by haar huis.

“Ek sien uit om weer met my kinders te kan sit en gesels, veral met my dogter. Sy woon nou in Holland. Nadat sy terug is vir die vakansie, het ons nog nie van aangesig tot aangesig gepraat nie.”

Pieterse het mense gemaan om steeds versigtig te wees. “Was jul hande en dra ’n masker as jy uitgaan.

“Mense moet ook gereeld hul maskers was.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters