Verlede maand
Tyd by huis is nie so ’n swaar kruis
OEFEN: Kies iets wat maklik genoeg is dat jy en jou kinders dit saam kan doen.  ~ istockphoto

ONS trek nou al by dag 5 van die lockdown hier in Suid-Afrika.

Ek sien op Facebook hoe raadop ouers is; hulle weet nie hoe om hulle woelige klôgoed besig te hou nie.

Hier is ’n paar wenke om jou kinders te vermaak terwyl julle ingeperk is.

1. Oefen saam

Op die internet kan jy ’n hele paar oefen-idees kry. Kies iets wat maklik genoeg is dat jy en jou kinders dit saam kan doen. So bly julle fiks en gesond. Boonop gaan die kleintjies later uitgeput wees – en dan het jy lekker vrye tyd vir jouself.

2. Kook saam

Maak jou kinders deel van die bestuur van die huishouding. Laat hulle met klein takies help terwyl jy besig is om te kook. As hulle ’n bietjie ouer en verantwoordeliker is, kan hulle sommer self ’n maaltyd soos ontbyt of toebroodjies vir middagete maak. ’n Ander lekker tydverdryf is om saam te bak. In moeilike tye soos hierdie kan ’n soetdingetjie help om dinge ’n klein bietjie mak­liker te maak.

3. Leertyd

Jy en jou kinders sal makliker deur hierdie tyd kom as daar ’n roetine in die huis is. Maak skoolwerk een van die doendinge op jou lys. Aangesien die kinders nou so lank by die huis is en dus baie skooltyd en -werk misloop, is dit baie belangrik dat hulle elke dag deur hulle skoolwerk gaan.

4. Speel saam

Haal daai slangetjies-en-leertjies-bord, domino’s, Uno-kaarte, 30 Seconds- en Monopoly-bord uit. Dié speletjies kan die hele gesin ’n paar uur lank besig hou.

5. Pak die klerekaste reg

Wanneer ons uit hierdie lockdown kom, is dit lankal nie meer somer nie. Is julle kaste nog vol somerklere? Gebruik dan dié tyd om dit vir eers te bêre en julle klere vir die herfs en winter gereed te kry. Kinders kan sommer hulle eie kaste regpak. Nie net hou dit hulle besig nie; dan sal hulle ook weet wat in hulle kaste aangaan.

6. Leestyd

Lees- en leertyd is twee verskillende goed. Leertyd is tyd vir skoolwerk en leestyd is wanneer jy vir ontspanning lees en om jou algemene kennis te verbreed. Onthou, kinders leer by jou. Wanneer dit vir jou leestyd is, moet dit ook vir hulle leestyd wees. Almal kan saam (hopelik) in stilte lees.

  • Ouers, moet julle nie blind staar teen die erns van die pandemie nie. Wees ingelig oor die virus en maak seker jy en jou kinders is te alle tye veilig.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters