29 dae gelede
Tutu een van 1ste
HEEL OPGEWONDE: Aartsbiskop emeritus Desmond Tutu en sy vrou, Leah, kort nadat hulle hul inspuiting teen Covid-19 by die Brooklyn-borshospitaal ontvang het.  ~ Anele Mfazwe

TOE-TOE, julle, dis ’n veilige entstof!

Desmond Tutu, aartsbiskop emeritus van die Anglikaanse Kerk, en sy vrou, Leah, was onder die eerste bejaardes om die Covid-19-inspuiting te kry.

Tutu (89) en Leah (87) het gister hul inspuitings by die Brooklyn-borshospitaal in Milnerton gekry.

Dié egpaar was twee van ’n groep senior burgers wat hul entstof gekry het as deel van die tweede fase van die inentingsprogram.

Die huidige stadium van die inentingsprogram fokus op mense ouer as 60 jaar.

Dié been van die program loop saam met fase 2, wat die afhandeling van die inenting van ons gesondheidswerkers behels.

Tutu is ’n ondersteuner van entstowwe teen Covid-19.

Hy het opgewonde gelyk toe hy net voor 12:00 by die kliniek opgedaag het.

Tutu het ná die vaccina­tion die entstof die thumbs up gegee voordat hy en Leah die kliniek verlaat het.

Hulle het nie die media toegespreek nie.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, meen egter die Tutu-egpaar se deelname aan die inentingsprogram is genoeg om ander bejaardes aan te moedig om hul inspuiting te kry.

Winde sê: “Daar was voorstelle dat ons influencers aanstel om mense aan te moedig om die inspuiting te kry.

“Jy het egter nie in­fluencers nodig as jy Tutu aan jou kant het nie.

“Dit was ’n groot eer om die Arch en sy vrou, Leah, hier te hê.

“Ek wil inwoners wat kwalifiseer, daaraan herinner om vir die vaccine te registreer.

“Ek wil ook diegene wat nog nie kwalifiseer nie, aanmoedig om hul deel te bring deur diegene wat wel kwalifiseer, te help registreer.”

Dr. Noma­french Mbombo, Wes-Kaapse minister van gesondheid, sê: “Dié is die eintlike begin van die inentingsprogram, want die Si­sonke/Johnson & Johnson-program was ’n trial­.

“Hierdie is geskiedenis wat nie uitgewis sal word nie.”

Verloor

Die Wes-Kaapse hoof van gesondheid, dr. Keith Cloete, sê die begin van die tweede fase van die inentingsprogram is ’n emosionele oomblik vir hom.

Hy sê dit is emosioneel, want daar is mense na aan hom wat hul lewe weens Covid-19 verloor het.

Die begin van die tweede fase beteken nou ook dat meer mense ouer as 60 jaar teen die virus beskerm sal word.

Cloete het bygevoeg meer moet gedoen word om mense in arm gebiede op die registrasielys te kry.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters