13 dae gelede
Tuinroete raak koors-warm
Coronavirus. COVID-19. 3D Render
'n Dringende hotspot-alert is vir die Tuinroete uitgereik.  ~ Getty Images

IN PRES. Cyril Rama­phosa se mees onlangse family­ meeting met die nasie op TV het hy dele van die Tuinroete uitgewys as van die gebiede met ’n toename in Covid-19-gevalle.

Die Wes-Kaapse regering het Dinsdag ’n dringende hotspot-waarskuwing vir die Tuinroete uitgereik weens die vinnig stygende aantal Covid-19-gevalle in die gebied.

Dié styging dra veral by tot die sigbare groei van aktiewe gevalle in die Wes-Kaap. Daar is egter kommer oor die toenemende aantal gevalle in George, Knysna en Bitou.

George alleen het tans 628 aktiewe gevalle – die hoogste getal aktiewe gevalle in die provinsie.

Oor die naweek is 160 nuwe gevalle in George aangemeld, 145 nuwe gevalle in Knysna en Bitou, 41 in Mosselbaai en 7 nuwe gevalle in Hessequa.

Toesig

Die aantal hospitaaltoelatings in die streek neem dienooreenkomstig ook toe.

Die hotspot-span vir die Tuinroete het sy toesig verhoog deur middel van screening en toetsing.

Die pogings behels ook samewerking met die munisipaliteite, omgewingsgesondheidspanne en belanghebbendes in die streek om die verspreiding te bestuur en te beperk.

Inwoners word gevra om steeds te alle tye hul masker te dra, byeenkomste en vol plekke te vermy waar min ventilasie is, ’n afstand van 1,5 m tussen mense te handhaaf en ook hul hande gereeld met seep en water te was.

As jy simptome ervaar, kan jy die 080 928 4102 hotline bel vir aanwysings oor wat om volgende te doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters