13 dae gelede
Trace race is aan ná sterfte
WEES VERSIGTIG: Passasiers was onwetend ure lank saam met ’n baie siek passasier in ’n passasiersbus.  ~ Foto ter illustrasie: Gallo iStock

DIE Wes-Kaapse gesondheidsdepartement soek dringend na passasiers wat verlede week Jobela Star Bus Ser­vices gebruik het.

Na wat verneem word, het passasiers met dié busdiens vanaf die Oos-Kaap na verskillende areas in die Wes-Kaap gereis.

Agterkom

Luidens berigte het al die passasiers die nodige screen­ing gedoen.

Hulle was sterk op pad Kaap toe toe een van die passasiers op die bus skielik sterf.

Die passasiers was nog almal oukei – totdat hulle by ’n refreshment point in Beaufort-Wes gestop het.

Hier het die passasiers agterkom iets is fout.

Een van die passasiers het dood neergeslaan.

’n Ingeligte bron vertel die bus het daar bly staan en gewag totdat die toepaslike dienste die lyk kan kom haal het.

Daarna kon die bus verder ry Kaapstad toe.

Die passasiers het eers ’n paar dae later uitgevind die passasier wat oorlede is, het Covid-19 onder lede gehad. Op ’n lys wat in Son se besit is en wat in die sosiale media versprei is, is die name van 20 passasiers wat veilig in die Kaap opgedaag het.

Luidens die lys is die meeste van die passasiers in die omgewing van Khayelitsha afgelaai.

Ander passasiers het gebiede soos Guguletu, Langa, Philippi, Delft, Dunoon en Nyanga besoek.

Die persoon wat gesterf het, was veronderstel om Philippi toe te gaan.

Mark van der Heever, die hoofwoordvoerder van die gesondheidsdepartement, het bevestig hulle weet van die voorval.

Gepraat

“Ons weet hiervan en ons het die passasiers wie se name op die betrokke lys verskyn al klaar met contact tracing begin opspoor,” het Van der Heever gesê.

“Ons opsporingspan volg tans met die passasiers op en het reeds met ’n hele klomp van hulle gepraat.

“Ons raai alle bus-operateurs en passasiers aan om te verseker dat hulle aan die toepaslike veiligheidsprotokolle voldoen.

“Dit geld vir enige vorm van openbare vervoer wat gebruik word.”

Van der Heever het bygevoeg: “Dra u masker en hou vensters oop sodat vars lug kan sirkuleer.

“As u nie lekker voel voordat u vertrek nie, bly by die huis en word eers gesond voordat u reis.

“Deur dit te doen, beskerm u uself en ander.”

Die departement van gesondheid het die busdiens dadelik gekontak en van die voorval ingelig.

Son kon nie die busdiens in die hande kry vir kommentaar nie. Na verneem word, het die busdiens die betrokke bus onmiddellik ontsmet en die busbestuurders is onder kwarantyn.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters