14 dae gelede
Terugblik op die Lockdown-jaar
PREP: 27 Maart 2020 was amptelik die eerste dag van die lockdown. Pres. Cyril Ramaphosa se afkondiging het baie se harte geraak en burgers is die opdrag gegee om binne te bly. Dit het verpligtend geraak om ’n masker te dra en almal moes gereeld sanitise.  ~ 

27 MAART 2020 ...

Dit is die dag toe Suid-Afrika, soos die res van die wêreld, die besluit geneem het om na ’n ongekende nuwe realiteit te beweeg – ’n lockdown.

Dis die dag toe Suid-Afrikaners geskok is met hoe dit voel om in jou blyplek vasgevang te wees asof dit ’n tronk is.

Covid-19 was vir almal nuut en wêreldwyd het mense kop gekrap oor hóé om die virus hok te slaan.

Dié proses is ’n jaar later steeds aan die gang.

Op Vrydag 27 Maart 2020 moes die land se burgers ongekende territory binnegaan, wat almal later geken het as die harde lockdown.

Verward

Die enigste rede waarom jy dit buite jou huis kon waag, was om noodsaaklike inkopies te doen of as jy ’n essential werker is.

Die land het pres. Cyril Ramaphosa se afkondiging met baie gemengde emosies, hoofsaaklik negatief, ontvang.

Mense was verward en almal het gewonder of ons dit sal maak.

Ons is deur ongekende tye toe die army op die strate ontplooi is.

Mense het paniekerig in grootmaat voorraad begin aankoop en saam met dit gesmaak hoe dit is om sonder sigarette en drank oor die weg te moet kom.

Werksgeleenthede het in die slag gebly.

Skole het soos geraamtes vir lang tye leeg gestaan.

Vars hopies grond het in hul menigte by begraafplase verskyn.

Die virus het veroorsaak dat die dood aan baie se deur kom klop het.

Frontline-werkers is deur die hel en terug gesleep met onbaatsugtige werk.

Bedrog met PPE’s het op die lappe gekom.

Plakkerskampe met pandemie-name het soos paddastoele verrys. Baie winkels het gevou en oral sien ’n mens hoe plekke leeg staan.

Jy het geleer om deur ’n masker asem te haal en jou hande herhaaldelik te was en te sanitise.

Tog is daar lig in die tonnel – ’n entstof wat stadig maar seker toegedien word. Ons is egter steeds in ’n stryd gewikkel met ’n klomp vrae.

Die fotobeeld wys hoe die jaar sover verloop het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters