8 maande gelede
Taxi’s, GPF bedank medici
DANKBAAR: Die plaaslike taxi-dienste en GPF besoek die hospitaal om vir medici te bid en hulle vir hul onbaatsugtige diens te bedank.  ~ Garnett Wicomb

DIE Oudtshoorn-taxi-vereniging en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die Oudtshoorn Provinsiale Hospitaal besoek om dankie te sê aan die dokters, verpleegpersoneel en ander gesondheidswerkers wat daagliks hul lewe op die spel plaas om Covid-19-pasiënte te behandel.

Die taxi-eienaars het met ’n spesiale roete van die taxi-staanplek in die middedorp na die hospitaal gery.

’n Gebedsessie is voor die ongevallesaal gehou.

Les Meiring van die taxi-vereniging het die inisiatief saam met David Ewerts, Magdel Ewerts en Chris­topher Coetzee gereël.

Volgens Meiring was die doel daarvan om dank en eer aan God te betuig en medici te bedank dat hulle hul lewe op die spel plaas om ander s’n te red.

Genadekans

Meiring het bygevoeg 2020 was vir almal ’n moeilike jaar, maar dit was soveel meer uitdagend vir die gesondheidswerkers in die hospitale en klinieke.

“As taxi-gemeenskap is ons dankbaar dat ons steeds lewe en asemhaal.

“Dis ’n genadekans om steeds te kan werk en ’n noodsaaklike diens te kan lewer.”

Phillip Seroux van die GPF het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om ook te bid vir gesondheidswerkers, wat ook familie het na wie hulle ná elke skof teruggaan te midde van erg traumatiese spanning en onsekerheid.

Volgens Seroux is daar nie genoeg woorde om hulle vir hul onbaatsugtige diens te bedank nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters