Verlede maand
Susters sterf dae uitmekaar
HARTSEER: Cindy Jacobs sê haar ma en antie se dood is vir die familie ’n groot skok.  ~ Peter Abrahams

VAN kleins af was hulle altyd bymekaar. En só het hulle ook gesterf.

Twee susters van Belhar het albei onlangs hul stryd teen die dodelike corona-virus verloor.

Mavis Jacobs (59) en Maureen Hill (51) was so onafskeidbaar, hulle het in dieselfde saal tot sterfte gekom. Drie dae uitmekaar.

Mavis het eerste beswyk en toe Hill. Hulle was in die privaat hospitaal Melomed Bellville se Covid-19-saal.

Volgens Mavis se dogter, Cindy Jacobs, het hul familie Krismis nog lekker saam gekuier.

Sy sê Hill het toe gesê sy voel ’n bietjie olik.

Cindy vertel haar antie is huis toe en sy het al aan by haar ma gebly om nog Krismis-leftovers te geniet.

Sy sê sy vermoed haar ma is ook met die virus besmet toe sy en haar niggie vir Hill medikasie geneem het.

Intussen het die niggie ook begin om nie lekker te voel nie, sê Cindy.

Volgens haar het niemand hulle vir Covid-19 laat toets nie – totdat Hill die Saterdag begin sukkel het om asem te haal.

Cindy sê sy is met die ambulans na die Melomed Bellville, waar sy positief getoets is.

Intussen is die niggie ook positief getoets.

Cindy vertel: “My ma is toe ook weg vir ’n toets, maar oor sy haar by die daghospitaal laat toets het, het sy lank gewag vir haar uitslae.

“Sy het begin voel soos een wat flu het. Ek het vir haar medikasie gekry, kos gemaak en dit op die stoep gelos.

“Sondagaand het my ma nie lekker gevoel nie. Ek het die ambulans gebel.

“Hulle toets toe haar vitals en sê sy’s nie siek genoeg om hospitaal toe te gaan nie.

“Hulle sê toe indien sy slegter raak, moet ons weer bel.

“Die Sondag het sy swaar begin asemhaal en ek het weer die ambulans gebel.

“Sy is toe na die privaat hospitaal Melomed Mitchells Plain oor haar suikervlakke gespike het.

“Haar suurstofvlak was fine.

“Die volgende dag is sy ontslaan.

“My niggie laat weet my toe my ma is deurmekaar en is besig om die huis te vee en mop.

“Ek dink sy’t frustrated geraak oor sy maar die moederfiguur in die familie was.

Herstel

“My niggie het gesê my ma praat in tale en loop teen die mure vas.

“Haar suikervlakke was weer hoog en haar suurstofvlakke het geval.

“Sy’s weer in die hospitaal opgeneem.

“Dié keer was daar vir haar ’n bed in dieselfde hospitaal waar Maureen was.”

Volgens Cindy is haar ma op high-flow-suurstof gesit en haar antie is aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.

Sy sê Maureen het nooit weer herstel nie.

GROOT SEER: Jacobs (links) en Hill se dogter, Shante Hill, vier hul ma’s se nalatenskap met ’n gedenkdiens. Foto: Verskaf

Hulle het haar daai dag op ’n Skype-oproep die laaste keer lewend gesien.

Omdat sy gesukkel het om asem te haal, was waai al wat sy kon doen.

Cindy onthou hoe stout haar ma was. Sy het een van die skoonmakers in die hospitaal gestuur om tog net by haar sussie te gaan inloer.

Hoewel sy toe reeds ernstig siek was, was sy meer bekommerd oor Maureen en sy het mense gevra om tog vir haar jonger sussie te bid oor dié baie siek is.

Realiteit

Maar toe sterf sy eerste en Maureen drie dae later, vertel Cindy.

Sy sê die nuus was ’n groot skok vir hul familie.

“Ek het geglo sy gaan gesond raak.

“Dit was ’n dubbele skok en dis steeds nie ’n realiteit nie,” sê Cindy.

“Ek besef my ma het my al ’n ruk prepare om haar skoene vol te staan.

Ek het altyd gesê ek kan dit nie doen nie, maar nou het ek nie ’n keuse nie.

“Ek moet nou Maureen se dogter bystaan, soos my ma haar ma al die jare bygestaan het.”

Mavis en Hill is albei Woensdag in die Maitland-begraafplaas ter ruste gelê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters