24 dae gelede
Stuit derde vlaag
WAARSKUWING: Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, sê die derde golf van corona-virus-infeksie kan laer as die tweede een wees. Dit hang egter van die inwoners se gedrag af.  ~ Anele Mfazwe

DIE derde golf Covid-19 wat nog te wagte is, kan hopelik veel geringer wees, maar dit hang af van hoe mense optree en of hulle steeds die maatreëls ernstig opneem.

Dr. Keith Cloete, die Wes-Kaapse gesondheidshoof, sê die syfers van Covid-19-verwante nuwe infeksies, hospitalisasies en sterfgevalle bly stabiel regdeur die provinsie.

Al is dit goeie nuus, kan die gesondheidsdepartement nie bekostig om sy paraatheid te verslap nie en hy bly dus op sy hoede.

Gedrag

Daar is reeds drie ander provinsies – die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes – waar syfers weer begin styg het en die prentjie kan baie vinnig verander.

Cloete verduidelik: “ ’n Verandering van mense se gedrag kan bepaal wanneer die derde golf ons tref en dis ook bepalend hoe ernstig dit ons kan tref.”

  • Aljazeera.com berig Indië is tans gewikkel in ’n rekordgetal van Covid-19- gevalle wat steeds styg.

Gister is ’n globale rekordgetal vir een dag van 314 000 nuwe gevalle aangemeld. Die hoofstad Delhi het nou al ’n tekort aan suurstofmaskers, hospitaalbeddens en dit het die land soos ’n dwarsklap getref.

Cloete se boodskap is dat die verwagte derde golf vertraag en die intensiteit verlaag kan word.

Volgens Cloete sal die inenting van mense bo die ouderdom van 60 jaar ook die impak versag en minder druk op die gesondheidstelsel plaas.

Hy sê: “Dis noodsaaklik dat baie mense ouer as 60 so gou moontlik ingeënt moet word, want sodoende gaan ons die derde aanslag minder hewig vind.”

Haweloses

Mense kan registreer by vaccine.enroll.health.gov.za vir hul inspuiting.

Inwoners wat nie toegang tot die internet het nie kan fisies by die vaccine sites gaan registreer.

Dr. Noma­french Mbombo, die Wes-Kaapse minister van gesondheid, sê mobiele spanne sal ook ontplooi word om bejaardes, haweloses en mense in die plattelande te help registreer.

Winde sê die Wes-Kaapse regering sal voortgaan met sy plan om sy eie entstowwe te verkry.

Dis ondanks die feit dat die nasionale minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, vandeesweek gesê het dis nie nodig vir provinsies om hul eie vaccines aan te skaf nie.

Intussen het die nasionale kabinet gister vergader en gesê hulle is bekommerd oor die toename in die genoemde provinsies. Reaksiespanne is ontplooi om mense wat moontlik ook deur die positiewe gevalle besmet is, so gou moontlik op te spoor.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters