10 dae gelede
Stad gereed vir duisende dooies
LAASTE RUSPLEK: Die Atlantis Cemetery is een van die Stad se begraafplase wat voorberei word.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

HULLE het gevrees die Lost City gaan in die City of the Dead verander.

Met die Covid-19-pandemie wat vinnig besig is om sy peak in die Wes-Kaap te bereik, en saam met dit die dodetal wat vinnig styg, moes die owerhede vinnig planne beraam om plek te maak vir die lyke wat ophoop.

By die begraafplaas in Atlantis is werkers, met die hulp van front-end loaders, druk besig om voor te berei vir die lyke wat kom.

En die locals vrees dit gaan ’n dumping ground vir die dooies word.

Die huidige sterfte-projeksie vir Covid-19 wys dat die Stad Kaapstad in die volgende paar weke dieselfde aantal grafte sal gebruik as wat hy gewoonlik in ’n enkele jaar gebruik.

Die huidige projeksie is 5 000 sterftes per week oor die volgende paar weke soos die hele land na die peak van die pandemie beweeg.

In Atlantis word grafte tans voorberei, soos in die res van die Stad Kaapstad.

Akkommodeer

Zahid Badroodien, die Stad se mayco-lid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê toe die werk aan die grafte in Atlantis begin het, was die gemeenskap angstig omdat die inwoners gedink het ál die Covid-19-sterfgevalle sal daarheen gebring en begrawe word.

“Ons het 40 begraafplase, met 17 wat aktief is en 5 van hulle wat 5 000 nuwe grafte kan akkommodeer.

“Die rede waarom die grafte in Atlantis nóú al gegrou word, is om te verseker dat ons voorbereid is en ons beplan dieselfde by die ander begraafplase, indien nodig.

“Ons moet voor­bereid wees op die inevitable, sodat lykhuise en under­takers nie sukkel met die aantal mense wat sterf nie,” maan Badroodien.

Hy voeg by die Stad wil nie massagrafte doen nie omdat dit onsensitief is en nie die waardigheid van die slagoffers en hul familielede respekteer nie.

“Selfs ná Covid-19 – as familie­lede hul geliefde wil verwyder en in ’n familiegraf wil begrawe, hoe sal werkers hul geliefde identifiseer en uit ’n massagraf verwyder?

“Ons het besluit om individuele grafte te grawe omdat ons die waardigheid van elke sterfgeval respekteer.”

Badroodien sê al is die beperking op die getal persone wat begrafnisse bywoon 50, was daar al talle gevalle waar hierdie regulasie nie nagekom is nie.

“Die nie-nakoming van begrafnisregulasies is ’n groot bron van kommer. Daar was reeds talle gevalle van oordrag wat uit begrafnisdienste spruit.

“So, die omvang van die byeenkoms en die vermoë om sosiale distansiëring te behou, is in hierdie sin belangrik.

Voorkeurdag

“Ons het ook al gevalle gehad waar ’n begrafnisprosessie laat by die begraafplaas opdaag.

“Dit het vertragings en nagevolge vir die aantal begrafnisse wat op daardie dag geakkommodeer kan word,” sê Badroodien.

Hy sê statistieke toon dat Saterdag die voorkeurdag vir begrafnisse bly, maar daar kan meer gedoen word om ’n meer eweredige verspreiding van begrafnisse deur die week te verseker.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters