Verlede maand
Sprake van ’n vierde vlaag
Versigtig: Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, sê ’n moontlike vierde vlaag hang van verskeie faktore af.  ~ Anele Mfazwe

DIE derde vlaag is nog nie eens verby nie en die regering moet klaar met die moontlikheid van ’n vierde ronde van die corona-virus worstel.

Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, het dié kwessie gister in premier Alan Winde se weeklikse digitale perskonferensie aangeroer.

Son het Cloete gevra of die aard van ’n moontlike vierde Covid-19-vlaag al bepaal kan word. Hierop het Cloete gesê dat dié moontlikheid hoofsaaklik afhang van drie aspekte: of dit ’n nuwe variant gaan wees; die stand van gemeenskaps­immuniteit en hoe goed daar gehoor gegee word aan Covid-protokol.

Mense kan immuniteit teen die virus opbou as hulle dit voorheen gehad het of nadat hulle ingeënt is. Volgens hom, is hul inligting gegrond op wat kenners uit die vorige vlae geleer het. Dit is dié inligting wat tans voorspel dat ’n vierde vlaag voor die einde van die jaar kan kop uitsteek.

Binnekort

Die eerste vlaag het in Junie 2020 sy peak bereik en die tweede vlaag het in Desember gekom. Die derde vlaag behoort binnekort sy peak te bereik. Cloete sê verder: “Die natuurlike patroon dui op die risiko en moontlikheid van ’n vierde vlaag in November of Desember.

“So, die vrae is, watter verhouding van mense is besmet en wat is ons immuniteit teen die einde van November?

“Dít sal bepaal of daar ’n vierde vlaag gaan wees en indien so, hoe hoog die impak sal wees.”

Hy sê verder die derde vlaag sal binne die volgende week of 10 dae sy peak bereik.

Cloete voeg by die nuwe gevalle sal daarna 4 tot 5 weke vat voordat dit weer stabiliseer.

Hy sê op ’n positiewe noot nuwe gevalle onder gesondheidswerkers het met sowat 68% gedaal tydens die derde vlaag in vergelyking met die tweede vlaag, waartydens baie frontline werkers gesterf het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters