13 dae gelede
Smith dog virus is sonbrand
SIMPTOME: JP Smith sê hy het ná sy besoeke aan fasiliteite naarheid en kouekoors ervaar.  ~ Foto Verskaf

“EK VOEL baie mense betaal ’n ernstige prys weens Covid-19.”

Só sê JP Smith, mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit van die Stad Kaapstad, wat ook onlangs positief getoets is vir Covid-19.

Smith het op 27 Desember simptome van naarheid en kouekoors begin ervaar. Dít nadat hy die dag vooraf talle fasiliteite in die Kaapse metro besoek het.

Hy vertel: “Ek het eers gedink dis net sonbrand, want ek kry maklik sonsteek, maar dit het so erg geword dat ek geweet het iets erger is fout.”

Kort nadat hy positief getoets is, het hy hom dadelik begin afsonder. Hy noem hy moes ook versigtig wees omdat sy ouers, wat bejaard is, by hom woon.

Longinfeksie

“Ek was die eerste paar dae maar erg bekommerd omdat ons ’n familie-Kersfees gehad het en die kanse groot was dat ek die virus aan my ouers kon gegee het.

“Gelukkig het nie een van die twee nog simptome van die virus getoon nie.”

Smith noem hoewel hy nou al meer as 15 dae in isolasie is en nie meer aansteeklik behoort te wees nie, neem hy nog sy medikasie om ook ’n longinfeksie te dokter wat hy opgedoen het.

“Toe Covid opklaar, het ek ’n babelas gehad, soos baie ander, weens ’n sekondêre infeksie,” vertel Smith.

Die politikus wat daarvoor bekend is dat hy altyd op die grond teenwoordig is, hoop om Vrydag weer aan diens te wees.

Smith doen ’n beroep op landsburgers om te sanitise en altyd hul masker te dra.

“Die virus is erg; ons het al goeie mense verloor.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters